Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

DAG 8 VAN 39

“Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan”

- Lukas 22:27-28 (DB)

Thomas Keeting, ‘n priester uit die Katolieke tradisie, vertel die verhaal van ‘n jong man wat tot bekering gekom het. Hy was bekend daarvoor dat hy almal onder die tafel in kon drink, maar hy het na sy bekering besluit om deel te word van die strengste orde en sy hele lewe vir die Here te gee. Lydenstyd het gekom en hulle het besluit om te vas. Een vir een het die ou manne van die orde die veertig dae vas begin prysgee, totdat hy, die nuwe bekeerling, die enigste een was wat die veertig dae kon deursien. Op daardie laaste dag het hy met genoegdoening besef dat hy almal "onder die tafel in" gevas het, net soos hy almal onder die tafel in kon drink. Thomas Keeting vra, wat het verander in hierdie jong man? Hy sê, net sy adres, sy haarstyl en sy kleredrag, maar binne het daar nie groot skuiwe plaasgevind nie. Die lewe het nog steeds om homself gedraai, hy het eers drank gebruik en nou gebruik hy godsdiens om sy vernederde ego te versterk en nog steeds bo uit te kom en die aansien van al die ander mense om hom te probeer kry. Die eie-ek en die hoogmoed is nog steeds baie sterk in hom. Dit is ook die verhaal van die dissipels. Hulle was gelowiges en het vir Jesus gevolg, maar toe stry hulle onder mekaar oor wie die belangrikste is en watter posisies elkeen gaan beklee.

Dit bring ons by onsself uit – dit is so moeilik om die eie-ek, die hoogmoed in onsself te sien. Die enigste manier hoe ons daarvan bewus kan word en dit in ons eie lewens kan sien, is wanneer Hy dit vir ons wys. As Hy ons oortuig, soos met die dissipels, is dit om ons vry te maak van die sorge en spanning wat hoogmoed in ons lewens bring. Dan kan ons soos Hy begin leef.

Refleksie: Vra Hom om genade om die eie-ek in jou uit te wys en jou daarvan vry te maak. Jy kan die gebed herhaal so dikwels as wat dit deur die dag by jou opkom.

Gebed: Ek vra om genade vir ‘n dieper insig en oortuiging dat my eie-ek my nie van die lewe moet ontneem nie.

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com