Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
“Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan”
- Lukas 22:27-28 (DB).
Ons almal sien op na iemand. Dit vorm ons. Ons kan sê ons word gekondisioneer deur dit waarna ons kyk. Wat ons van onsself, van die lewe, van God dink – alles hang af van dit waaraan ons blootgestel word en dit waarna ons kyk. Christus maak sy dissipels bewus daarvan dat hulle ook besig is om na sekere mense op te sien. Dit is die samelewing van die dag. Daar is mense wat gesagsposisies wil beklee, vir wie dit baie belangrik is wat ander mense van hulle dink, want dan kan hulle mag uitoefen en met die bewondering van ander mense leef. Deur op hierdie manier te lewe, kan hulle dan dink en voel dat hulle regtig ook belangrik is. Hy sê vir die dissipels dit is presies wat julle besig is om nou te doen. Julle stry onder mekaar, julle vergelyk julleself met mekaar (Paulus sê dit is dwaas 1 Kor 10:12b). Daar is hierdie behoefte en begeerte in ons almal om te dink en te voel dat ons belangrik is en bewonder word. Christus is nie teen die feit dat ons hierdie diep verlange om belangrik te wees in ons het nie, maar wel oor hoe ons dink en wat ons doen om dit te vervul. Ons kan dit soos Jesus by die Vader kry, en dan maak dit nie saak watter posisie ons beklee of watter werk ons doen nie. Jesus het geweet wie Hy was en kon toe die werk van ‘n slaaf doen. Sy werk het Hom nie belangrik gemaak nie, maar Hy het Sy werk belangrik gemaak. Johannes sê dat Hy, omdat Hy geweet het dat die Vader alles in Sy hande gegee het, dat Hy van die Vader af kom en oppad is terug na Hom, tydens hierdie geleentheid opgestaan en die voete van sy dissipels begin was het (Joh 13:3,4).
Refleksie: Wie is die leier of groot figure in jou verbeelding wat jou inspireer oor die lewe en hoe om daarby uit te kom? Hoe dink jy kan jou verbeelding aangegryp word en die begeerte in jou groei om die pad ondertoe te kies?
Gebed: Ek vra vir die genade van ‘n diep insig en oortuiging dat my ekkigheid my van die lewe ontneem.
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com