Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

DAG 3 VAN 39

"Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: 'Sit hier terwyl Ek gaan bid.' Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword"

- MARKUS 14:32-33.

Jesus het na 'n ander plek gegaan – die tuin. Hier kon Hy alleen wees, met sy dissipels daar naby. Hy kon in kontak kom met die onstuimigheid binne-in Hom. Miskien kan ons erken dat Getsemane nie bloot ’n fisiese plek is nie, maar dat Jesus, deur hierheen te kom, ook 'n spesifieke emosionele ruimte binnegaan. Hy betree 'n ruimte van openlikheid en kwesbaarheid waar Hy eerlik met beide God en sy dissipels kan deel dat Hy bang en angstig is. Hier rasionaliseer of minimaliseer Hy nie. Hy sit met dit wat Hy voel en bring dit in 'n opregte gesprek na sy Vader.

In plaas daarvan om Jesus se voorbeeld te volg wanneer ons onsself in tye van verlies of uitdaging bevind, veg ons dikwels, ons kruip weg en ons bewe … ons weerstaan eerder as om hierdie emosionele ruimte binne te gaan waar ons met God en ander kan deel hoe ons regtig voel. Ons trek die wolkombers oor die vrae wat ons nie durf vra nie en steek die krete van wanhoop en woede weg, want ons is te skaam om dit te verwoord. Kan ons dalk doelbewus besluit om terwyl ons tydens hierdie Lydenstyd na 'n fisiese ruimte gaan, ons ook vir Jesus sal vra om ons te lei na 'n emosionele ruimte waar ons opreg, eerlik en oop in 'n gesprek met Hom en die gemeenskap kan wees wat saam op ons lewensreis is? Dit was vir Jesus belangrik, 'n deel van wat vir Hom nodig was om sy pad van lyding voort te sit. Dalk kan dit ook vir ons betekenisvol wees soos ons die uitdagings en druk van die daaglikse lewe in die oë staar.

Refleksie:
Dink na oor jou verhouding met Jesus. Hoe nooi Hy jou uit om in jou ervaring van lyding eerliker en meer oop te wees?

Dink nou aan die mense wat die naaste aan jou is. Hoe kan jy groei in jou vermoë om meer emosioneel kwesbaar en oop in hierdie verhoudings te wees?

Gebed: Jesus, ek bid om genade vir 'n diepe bewussyn van u teenwoordigheid in my lewe.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com