Wanneer Jy Voel Jy Is in Die WoestynVoorbeeld

Wanneer Jy Voel Jy Is in Die Woestyn

DAG 2 VAN 8

Wanneer jy voel jy is in die woestyn

Om alleen in die woestyn te wees is baie afgesonderd. Jy weet nie regtig waar jy is nie – daar is net ’n eindelose niks na alle kante toe. Woestyne is sonder kos. In die woestyn is daar niks waarmee jy kan bou of skep nie – net sand, droë nuttelose sand wat geen vorm of struktuur het nie. Wanneer God ons woestyn toe stuur, is daar geen sekerheid oor wanneer dit gaan end kry nie. God gee nie vir ons ‘n kalender wanneer hy ons woestyn toe stuur nie. God maak nie die einddatum bekend nie. Meestal glo ons, aanvanklik, dat daar nie ‘n einddatum is nie. Ek dink Moses het ook hierdie vraag gevra.

Woestyne is genadeloos — warm in die dag en sonder enige koelte. Snags word dit bitter koud, net om môre weer genadeloos deur die son verrinneweer te word. Die stormwinde waai totdat alles vol sand is, jy hoor en voel dit tussen jou tande.

Daar is niemand met wie jy kan praat nie. Niemand vir wie jy raad kan vra nie. Niemand wat net sy hand op jou skouer kan sit en ’n paar woorde van bemoediging kan sê nie. Lugspieëlings en hallusinasies is deel van die woestyn. Vals hoop, vals drome, vals visioene.

So is God se woestyntyd ook vir sommige van ons.

In die woestyn verloor jy jou identiteit, ten minste dit wat in die wêreld as identiteit gereken word. Jy verloor jou waardigheid. Jou voorkoms word irrelevant. Dit maak nie saak of jou hare gekam is, jou gesig gewas is en of jy grimering aan het nie.

Wat mense van jou dink, is van geen belang nie, want dit is net jy en die woestyn. Die woestyn is vir almal dieselfde, ongeag wie jy is, hoe sterk jy is, hoe begaafd jy is, hoe belangrik jy is of watter posisie jy beklee. Die woestyn bring jou meedoënloos aan die einde van jouself. Dit het die vermoë om jou alle moed te laat verloor totdat wanhoop jou hele wese vul en al jou aansien, kennis, wysheid, gawes en planne volkome nutteloos en verskrompel op die woestynsand lê. Totdat net God oorbly.

Job was iemand wat iets van die omvang van ‘n geestelike woestyn verstaan het. Met sy verstand het hy verstaan dat God daar is, maar met sy emosies en wat rondom hom gebeur, kon hy God nie “beleef” nie. Al die maklike antwoorde was weg. Tot by die punt waar hy gewens het hy was liewer dood.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Voel Jy Is in Die Woestyn

So dikwels hoor ons mense sê: "Ek voel of ek in die woestyn is." Mense "voel" God nie, hulle "beleef" Hom nie. Hulle voel verdwaal. Vir sommige is dit weke of maande of jare al wat hulle so voel. Dit voel nie of God naby is nie. Hulle voel verwerp, oorbodig, niks maak sin nie. Is die Bybel ooit die waarheid? Hierdie leesplan behoort jou te help om meer sin te maak van jou situasie.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com