Wanneer Jy Voel Jy Is in Die WoestynVoorbeeld

Wanneer Jy Voel Jy Is in Die Woestyn

DAG 5 VAN 8

Wanneer jy voel jy is in die woestyn

Na elke woestyn kom die “beloofde land” en ’n opdrag, ’n opdrag wat so groot is dat ons sal wens dat ons liewers in die woestyn kon gebly het. God het vir Moses gesê: “Bring my volk uit Egipte uit, neem hulle na die beloofde land.” Hier sit Moses in die woestyn, gestroop van alles. Maar God het geweet: Voor die beloofde land is daar die farao en dit beteken oorlog teen die Egiptenare, die verantwoordelikheid om meer as twee miljoen mense deur die woestyn te lei en die gevaar van vyandige volke. Dit is vir hierdie oorloë en verantwoordelikhede dat God Moses in die woestyn voorberei het. In ‘n oorlog moet ons die Bevelvoerder se stem kan hoor, sy opdragte stiptelik uitvoer, ongeag wat ons met ons beperkte menslike vermoëns kan sien of voel en ongeag die omstandighede.

Maar, en dit is uiters belangrik: die opdrag kan soms so klein soos ‘n mosterdsaad wees. Die woestyn los vir ons soms net genoeg geloof oor sodat ons kan vorentoe gaan — soms so klein soos ‘n mosterdsaad. Maar dit is groot genoeg! Dit is hoe mens groot bome plant: met mosterdsade. Moenie verag wat God in jou hand sit nie. By baie van ons is daar groot geestelike gierigheid: ons wil gróót dinge vir die Here doen! Moenie die dag van klein dingetjies verag nie. Dit is nie vir jou om te bepaal hoe groot of klein die werk is wat hy vir jou gee om te doen nie.

Ons het woestyn-ervarings nodig om ons oor ons ongeloof te dissiplineer. Vir veertig jaar het God Israel in die woestyn gedissiplineer, hulle geleer om Hom te glo, na sy stem te luister en Hom te gehoorsaam. Israel moes leer om op God alleen te vertrou.

Dit is veral mislukking wat ons dikwels “baie skielik” in die woestyn laat beland. ‘n Diep wanhoop in onsself. Die verskrikking van: “Hoe is dit moontlik dat dit kon gebeur? Hoe is dit moontlik dat ek misluk het?”

In die woestyn toets God die diepste motiewe van ons hart: “Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom” Deuteronomium 8:2-5).

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Voel Jy Is in Die Woestyn

So dikwels hoor ons mense sê: "Ek voel of ek in die woestyn is." Mense "voel" God nie, hulle "beleef" Hom nie. Hulle voel verdwaal. Vir sommige is dit weke of maande of jare al wat hulle so voel. Dit voel nie of God naby is nie. Hulle voel verwerp, oorbodig, niks maak sin nie. Is die Bybel ooit die waarheid? Hierdie leesplan behoort jou te help om meer sin te maak van jou situasie.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com