Wanneer Jy Voel Jy Is in Die WoestynVoorbeeld
Wanneer jy voel jy is in die woestyn
In Egipte het Moses iets besef van die roeping van God in sy lewe: om die volk Israel uit Egipte uit te lei, na die beloofde land toe. Maar Moses wou dit self doen. Hy kon egter maar een Egiptenaar doodslaan en daarna moes hy vlug. God het toegelaat dat Moses die woestyn in vlug, ontmoedig, verward, om skape op te pas. In Spreuke 3:5-7 lees ons: "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie."
Moses se besef dat hy deur God geroep is, was reg, maar God moes hom eers dissiplineer en leer. Die wysheid van Egipte was nutteloos vir wat God in gedagte gehad het. Daar het Hy hom van al sy titels, posisie en kennis gestroop. In die woestyn is titels, posisie en kennis waardeloos, want in die woestyn bly daar niemand oor om daarmee te beïndruk of te intimideer nie.
Al was Moses die regte persoon, was hy nie gereed vir die werk nie – nie voordat hy geleer het om in ware gemeenskap en eenheid met God te lewe nie.
Ons mag ’n duidelike visie hê van wat God wil doen en wil hê, maar die oomblik dat ons ons hand aan die ploeg slaan, kan ons soms vir “veertig dae” of “veertig jaar” in die woestyn beland. En wanneer dit gebeur lyk dit asof God van die hele visie vergeet het, en dan is dit maklik om te dink dat God ons ook vergeet het. In sulke tye kan ons in volkome wanhoop verval. Dit is hier dat ons in vrees en bewing voor God kom staan en sê: “Wie is ek dat U mý wil stuur en gebruik? Ek kan nie die werk doen nie.” Die woestyn leer ons dat ons God se werk nie met ons eie krag kan doen nie. Let op 2 Korintiërs 4:7 – “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” In die woestyn wil God ons van vooraf leer waarvandaan die krag wat ons nodig het moet kom. Geestelike krag vir geestelike werk.
Aangaande hierdie leesplan
So dikwels hoor ons mense sê: "Ek voel of ek in die woestyn is." Mense "voel" God nie, hulle "beleef" Hom nie. Hulle voel verdwaal. Vir sommige is dit weke of maande of jare al wat hulle so voel. Dit voel nie of God naby is nie. Hulle voel verwerp, oorbodig, niks maak sin nie. Is die Bybel ooit die waarheid? Hierdie leesplan behoort jou te help om meer sin te maak van jou situasie.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com