Wanneer Jy Voel Jy Is in Die WoestynVoorbeeld
Wanneer jy voel jy is in die woestyn
God kom soms eers wanneer jy verbý die einde van jouself is. Hy kom wanneer ons verstaan dat ons kan leef sonder al die dinge wat ons dink onontbeerlik is. Wanneer God kom, besef ons uiteindelik dat Hy genoeg is. Selfs in die woestyn versadig Hy volkome.
Wanneer Hy kom, sal jy weet dit is Hy, want daar sal ’n “brandende bos” wees. Jy sal nie twyfel nie. Solank as wat jy twyfel of dit God is wat gekom het, kan jy weet dit is nie Hy nie.
In die woestyn verdwyn al die emosies, al die wonderlike gevoelens, die belewing van God se teenwoordigheid. Dáár wil God ons leer om in geloof te lewe en nie volgens wat ons kan sien en voel nie.
Die eerste rede vir God se woestyne vind ons in Deuteronomium 8:5 – "Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer."
Die woestyn is waar God ons skool vir die werk wat vir ons voorlê. Soos in die geval van Johannes die Doper, gebruik God dikwels woestyne om sy dienaars sterk te maak in die Gees voordat Hy hulle uitstuur: "Die kindjie (Johannes die Doper) het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel "(Lukas 1:80).
In die woestyn stroop God ons van onsself en berei ons voor vir die werk waarvoor Hy ons reeds van ewigheid af uitgekies het. God het Moses veertig jaar in die woestyn geskool.
Waar het God vir die Israeliete manna gegee? In die woestyn. Dit is in die woestyn wat God vir jou manna sal gee om van te lewe. Na veertig jaar in die woestyn, het God opgehou om manna te gee. Manna is vir die woestyn. As jy rondom jou kyk, wanneer jy in die woestyn is, sal jy die manna sien.
Aangaande hierdie leesplan
So dikwels hoor ons mense sê: "Ek voel of ek in die woestyn is." Mense "voel" God nie, hulle "beleef" Hom nie. Hulle voel verdwaal. Vir sommige is dit weke of maande of jare al wat hulle so voel. Dit voel nie of God naby is nie. Hulle voel verwerp, oorbodig, niks maak sin nie. Is die Bybel ooit die waarheid? Hierdie leesplan behoort jou te help om meer sin te maak van jou situasie.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com