Wanneer Jy Voel Jy Is in Die WoestynVoorbeeld

Wanneer Jy Voel Jy Is in Die Woestyn

DAG 6 VAN 8

Wanneer jy voel jy is in die woestyn

Die Heilige Gees het Jesus die woestyn in gelei nadat Hy met die Heilige Gees gedoop is. Daar in die woestyn het Hy veertig dae sonder kos gebly, en daarna het die Satan gekom en Hom versoek. God gebruik woestyne om ons te leer hoe die vyand se versoekings werk en om ons te leer hoe om die Bose te weerstaan sodat ons nie in sy strikke beland wanneer die werk begin nie. In die woestyn sal jy versoek word net soos Jesus (Lukas 4:1-13).

Voordat Jesus met sy openbare bediening kon begin, moes Hy eers die versoekings van die Bose oorwin. Wanneer jy jou “openbare bediening” wil begin, sal die Satan altyd kom kyk of hy jou nie kan mislei of vernietig nog voordat jy begin nie. Let daarop dat dit die Heilige Gees self was wat Jesus na die woestyn geneem het. In die woestyn leer God jou om die stryd teen die Bose te verstaan en hoe om die oorwinning te behaal.

God het Paulus vir drie jaar na sy bekering na die Arabiese woestyn gestuur. Daar het Hy Paulus geleer wat die verskil is tussen die wet en die genade wat daar in Jesus Christus is. "Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig" (Galasiërs 1:15-17). In die woestyn sal God vir jou nuwe dinge leer. In die woestyn moet jy tyd maak om die Bybel te lees – soveel as moontlik – en die Heilige Gees vra om jou te leer, die Woord vir jou dieper oop te breek.

Ons leer en groei geestelik na mate ons die Woord dieper verstaan – en daardie verstaan kom alleen deur die openbaring van die Heilige Gees. In 2 Timoteus 3:16 lees ons: "Die hele Skrif is deur God geïnspireer." Die Berean Study Bible vertaal dit as volg: "All Scripture is God-breathed."

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Wanneer Jy Voel Jy Is in Die Woestyn

So dikwels hoor ons mense sê: "Ek voel of ek in die woestyn is." Mense "voel" God nie, hulle "beleef" Hom nie. Hulle voel verdwaal. Vir sommige is dit weke of maande of jare al wat hulle so voel. Dit voel nie of God naby is nie. Hulle voel verwerp, oorbodig, niks maak sin nie. Is die Bybel ooit die waarheid? Hierdie leesplan behoort jou te help om meer sin te maak van jou situasie.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com