Meer As 'n TimmermanVoorbeeld

More Than a Carpenter

DAG 14 VAN 14

Is Daar Nie 'n Ander Manier Nie?

Mense neem dikwels aanstoot oor die bewerings dat Jesus die enigste weg na God is. Hierdie houding toon dat hulle maar net nie die natuur van God verstaan nie. Ons kan die kern van hul misverstand sien in die vraag wat hulle vra: "Hoe kan 'n liefdevolle God toelaat dat enigiemand hel toe gaan?"

Die antwoord, in 'n neutedop, is dat God nie mense hel toe stuur nie; hulle gaan as gevolg van hulle eie besluite. Vanaf die tyd van Adam en Eva het die mensdom 'n eiewillige, gierige, trotse natuur gehad wat ons sonde noem. Sonde kan nie in die teenwoordigheid van 'n liefdevolle, heilige, regverdige God oorleef nie. Sy natuur sou die sondige mensdom vernietig. Dis hoekom die Bybel sê: "Die loon van die sonde is die dood" (Romeine 6:23). Hoe kon God dus hierdie dilemma oplos en ons red?

Die Godheid — God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees — het 'n verstommende besluit geneem. Jesus, die Seun van God, sou mens word. Hy sou die God-man word. In die evangelie van Johannes lees ons: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon" (Johannes 1:14). Toe Jesus tereggestel is aan die kruis, het God sy dood as 'n plaasvervanger vir ons s'n aanvaar. Dis asof 'n regter 'n veroordeelde man sou vonnis (omdat geregtigheid dit vereis) en dan die plek van daardie man inneem om die vonnis uit te dien. Aan die kruis was die regverdige natuur van God bevredig en die straf vir ons sondes betaal.

Teen hierdie tyd sal baie mense die ooglopende vraag vra: "Hoekom kon God nie maar net vergewe sonder om betaling te vereis nie?" Hulle besef nie dat vergifnis altyd 'n prys moet betaal nie. Byvoorbeeld, kom ons sê my dogter breek 'n leeslamp in my huis. Ek gee haar 'n drukkie en sê: "Moenie huil nie, liefie. Pappa het jou lief en vergewe jou." Mense wat daardie verhaal hoor mag dalk sê: "Dis presies wat God behoort te doen." Dan kom die vraag: "Wie betaal vir die leeslamp?" Die feit is, ek betaal.

Dis wat God vir ons gedoen het: Hy het gesê: "Ek vergewe jou." Hy het egter self die prys vir vergifnis aan die kruis betaal. Dis 'n betaling wat Boeddha, Mohammed, Confucius en ander godsdienstige en morele leiers nie kan bied nie. Niemand kan die prys betaal deur maar net 'n "goeie lewe te leef" nie. Dis waar: daar is geen ander weg as Jesus nie.
Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

More Than a Carpenter

Is Jesus werklik die Here wat Hy beweer het Hy is? In hierdie twee weke lange oordenking sal jou denke geprikkel word deur insigte vanuit die moderne klassieke boek, "More Than a Carpenter". Jy sal oor belangrike argumente omtrent geloof lees, van 'n skeptikus wat 'n gelowige geword het. Josh McDowell wou die bewerings van Jesus Christus weerlê, maar die bewyse wat hy gevind het, het juis die teenoorgestelde tot gevolg gehad. Kom oorweeg die feite. Ervaar God se liefde en kyk dan wat gebeur.

More

Baie dankie aan Josh McDowell, Sean McDowell, en Tyndale House Uitgewers wat inhoud verskaf het wat aangepas is uit "More Than a Carpenter". Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.josh.org/