Meer As 'n TimmermanVoorbeeld

More Than a Carpenter

DAG 10 VAN 14

Wat Van Die Verslae Van Ooggetuies?

Die apostels het geskryf en ander dissipels het gepraat as werklike ooggetuies van die gebeure wat hulle beskryf het, soos Petrus in 2 Petrus 1:16 sê. Die mense wat die Christendom uitdaag, kyk dikwels verby die bewyse van die radikale herskepping van hulle wat die opstanding aanskou het.

J. P. Moreland, professor in filosofie aan die Talbot Kweekskool, verduidelik dit so:

"Toe Jesus gekruisig is, het sy volgelinge nie meer vertrou dat Jesus deur God gestuur was nie ... dus het hulle uitmekaar gespat. En toe, na 'n kort rukkie, sien ons hoe hulle hul werke los, hergroepeer en hulself daaraan toewy om 'n baie spesifieke boodskap te versprei — dat Jesus Christus die Messias van God was, wat aan die kruis gesterf het, opgestaan het uit die dood en dat hulle Hom lewendig gesien het. Hulle was gewillig om die res van hulle lewens daaraan te wy om dit te verkondig, sonder enige vergoeding vanuit 'n menslike oogpunt. Hulle was dikwels sonder kos, het buite geslaap, is bespot, geslaan en in die tronk gegooi. En uiteindelik is die meeste van hulle op wrede maniere tereggestel. Vir wat? Vir goeie bedoelings? Nee, omdat hulle sonder twyfel oortuig was dat hulle Jesus Christus lewendig gesien het na sy dood. Daar is geen ander voldoende verklaring nie."*1

Dink aan Thomas, wat gesê het dat hy nie glo dat Christus uit die dood opgestaan het voor hy nie sy vinger in die wonde kan sit nie. Thomas het later 'n marteldood vir Christus gesterf. Wat anders kon die vroeëre skeptikus so ingrypend verander het as dat hy die waarheid omtrent die opstanding ontdek het?

Dan is daar Petrus, wat die Here verskeie kere gedurende sy verhoor ontken het en Hom uiteindelik verlaat het. Net 'n kort rukkie na Christus se kruisiging en begrafnis, het Petrus egter in Jerusalem opgedaag en met vrymoedigheid begin preek dat Jesus die Christus is en opgestaan het, al is hy met die dood gedreig. Petrus is op die ou einde gekruisig. Wat kon hierdie verskrikte droster in so 'n dapper leeu vir Jesus verander het? Die enigste verduideliking wat my tevrede stel is dit wat ons in 1 Korintiërs 15:5 lees, "dat Hy (Christus) aan Petrus verskyn het" na sy opstanding. Petrus was 'n getuie van die Here se opstanding en hy het geglo — tot so 'n mate dat hy gewillig was om vir sy geloof te sterf.

Die standvastigheid van die apostels, selfs tot die dood toe, kan nie buite rekening gelaat word nie. Die radikale veranderde lewens van hierdie manne, gee vir ons 'n soliede getuienis van die geldigheid van Christus se bewerings.

1. J. P. Moreland, aangehaal in Strobel, The Case for Christ (Grand Rapids, MI: Zondervan, 1998), 246–47.
Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

More Than a Carpenter

Is Jesus werklik die Here wat Hy beweer het Hy is? In hierdie twee weke lange oordenking sal jou denke geprikkel word deur insigte vanuit die moderne klassieke boek, "More Than a Carpenter". Jy sal oor belangrike argumente omtrent geloof lees, van 'n skeptikus wat 'n gelowige geword het. Josh McDowell wou die bewerings van Jesus Christus weerlê, maar die bewyse wat hy gevind het, het juis die teenoorgestelde tot gevolg gehad. Kom oorweeg die feite. Ervaar God se liefde en kyk dan wat gebeur.

More

Baie dankie aan Josh McDowell, Sean McDowell, en Tyndale House Uitgewers wat inhoud verskaf het wat aangepas is uit "More Than a Carpenter". Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.josh.org/