HerskepVoorbeeld
Gehoorsaamheid is 'n Daad van Aanbidding
Deur Rick Warren
“Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra” (Psalm 119:33 DB).
God glimlag as ons Hom volkome gehoorsaam. Dit beteken dat ons Hom gehoorsaam sonder om te huiwer of om vrae te vra. Jy stel nie uit deur te sê: "Ek sal daaroor bid" nie. Jy doen dit sonder versuim. Elke ouer weet dat versuimde gehoorsaamheid eintlik ongehoorsaamheid is.
God is nie 'n verduideliking aan jou verskuldig vir alles wat Hy jou vra om te doen nie. Begrip kan later kom, maar nie gehoorsaamheid nie. Oombliklike gehoorsaamheid sal jou meer omtrent God leer as 'n leeftyd se besprekings oor die Bybel. Jy sal in der waarheid nooit sommige opdragte verstaan totdat jy hulle gehoorsaam het nie. Gehoorsaamheid bring begrip mee.
Dikwels probeer ons om God net gedeeltelik te gehoorsaam. Ons wil kies watter opdragte ons wil gehoorsaam. Ons maak 'n lys van opdragte waarvan ons hou en gehoorsaam hulle en ignoreer dié wat onredelik, moeilik, duur en ongewild is. Ek sal kerk toe gaan maar ek gaan nie my tiende gee nie. Ek sal my Bybel lees maar nie die persoon vergewe wat my seergemaak het nie. Gedeeltelike gehoorsaamheid is ongehoorsaamheid.
Volkome gehoorsaamheid gaan met vreugde en entoesiasme gepaard. Die Bybel sê: “Dien Hom met vreugde” (Psalm 100:2a DB).
Dis Dawid se houding: “Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra” (Psalm 119:33 DB).
Wanneer Jakobus met Christene praat, sê hy: “Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie” (Jakobus 2:24).
Die Woord van God is duidelik daaroor dat jy nie jou verlossing kan verdien nie. Dit vind deur genade plaas, nie jou probeerslae nie. As 'n kind van God kan jy Hom vreugde bring deur jou gehoorsaamheid. Enige daad van gehoorsaamheid is ook 'n daad van aanbidding.
Hoekom vind God vreugde in gehoorsaamheid? Want dit bewys dat jy Hom werklik liefhet. Jesus het gesê: “As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou” (Johannes 14:15 AFR20).
Luister na die onderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More