HerskepVoorbeeld
Gebruik jou Verstand om God te Gehoorsaam
Deur Tom Holladay
“Toe hy [Josef] egter hoor dat Argelaus koning geword het in sy pa, Herodes, se plek, het hy bang geword om na Judea te reis. Omdat God hom in ’n droom so beveel het, het hy toe na die omgewing van Galilea vertrek. En so het hy hom gaan vestig in ’n dorp met die naam Nasaret” (Matteus 2:22-23a NLV).
Vandag se oordenking is deur Tom Holladay, 'n leraar by die Saddlebackkerk.
Baie mense dink dat om 'n gehoorsame geloofslewe te lei, moet jy nie jou verstand gebruik nie, maar toelaat dat God jou soos 'n robot lei na die plek waar Hy jou wil hê. Dis glad nie hoe dit is nie.
Die Bybel sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand” (Lukas 10:27a NLV). Jy moet jou verstand gebruik en die soort lewe leef wat God vir jou in gedagte het.
Dis wat Josef in gehoorsaamheid gedoen het toe God hom die opdrag gee om na Israel terug te keer. Josef het gehoor dat Herodes se seun in Judea aan bewind was en dus was hy bang om soontoe te gaan. “Omdat God hom in ’n droom so beveel het, het hy toe na die omgewing van Galilea vertrek. En so het hy hom gaan vestig in ’n dorp met die naam Nasaret” (Matteus 2:22b-23a NLV).
Die Bybel het geprofeteer dat Jesus in Nasaret sou woon en daarom was Josef presies waar God hom wou hê. Hy het soontoe gegaan nadat hy die omstandighede oorweeg het — die politiek en Herodes se seun as heerser. Hy het besef dat dit nie 'n veilige plek was om in te woon nie, maar het sy gedagtes op God gerig om die regte besluit te neem.
Waar behoort ons God se opdrag vir ons lewens te kry? Ons het dalk nie engele om as gidse op te tree nie, maar ons het honderde en honderde bladsye van die Woord van God. Om 'n lewe van gehoorsaamheid te leef, moet ons leer ken wat God vir ons gesê het.
Jesus praat hieroor in Matteus 7:24 (NLV): “Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is.”
Ons het die Woord van God om ons te help om in 'n verhouding met Hom te lewe. Dis nie 'n boek met aanwysings nie. Dit is God se liefdesbrief aan ons. 'n Vader se brief met opdragte om ons te wys hoe om 'n lewe te leef wat Hy vir ons wil gee.
Terwyl jy die Woord van God lees, moedig ek jou aan om Psalm 119:34-35 (NLV) te lees: “Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind.”
Luister na die onderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More