HerskepVoorbeeld
Om God te Gehoorsaam Vereis dat jy 'n Risiko Neem
Deur Tom Holladay
“Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom: 'Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood'” (Matteus 2:19-20 NLV).
So ongemaklik as wat dit vir Josef was om met sy gesin Egipte toe te vertrek, kan jy jou net indink hoe vreesaanjaend dit vir hom moes wees om God se opdrag te gehoorsaam om na Israel terug te keer. Dit was soos om terug te gaan in die kake van 'n leeu. Hy sou Maria en Jesus terugneem na die plek waar hulle seun se lewe in gevaar was. Josef het egter op God vertrou en geglo wat Hy gesê het en dus het Josef die risiko geneem en teruggekeer omdat hy geweet het dit was die regte plek om te wees.
Die Bybel sê: “Die dag wanneer ek bang is, vertrou ek op U" (Psalm 56:4 AFR20). Let op dat die vers sê: "wanneer ek bang is" en nie "as ek bang is" nie. Ons wil graag op aarde 'n lewe sonder vrees leef, maar dit gebeur net in die hemel. In hierdie lewe gaan ons allerhande vrese teëkom.
Ons het groot vrese en geringe vrese. Ons is bang vir die toekoms, ons vrees vir wat met ons gesinne en werk gaan gebeur en ons vrees die klein dingetjies soos, of ons die regte ding vir iemand gesê het, of ons aanbieding by die werk goed afgeloop het en of ons daardie telefoonoproep moes maak.
In al hierdie omstandighede moet jy 'n keuse maak. Gaan jy toelaat dat vrees jou beheer of gaan jy 'n risiko neem en glo, omdat jy weet dat jy 'n God het wat vir jou lief is?
Daardie geloofsrisiko kan beteken dat jy iewers heen moet gaan waar jy nog nie voorheen was nie, of iemand moet vergewe wat jy nie gedink het jy kan nie. Dit kan beteken dat jy jou werk moet los. 'n Geloofsrisiko kan ook wees om oor iets te bid of om te besluit om God te vertrou met 'n situasie of 'n verhouding wat jy nog die hele tyd self probeer hanteer het.
Watter Goddelike risiko vra God jou om in geloof te neem?
Luister na die onderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More