HerskepVoorbeeld
Gehoorsaam God deur Hom te vertrou
Deur Tom Holladay
“... maar hy [Josef] het nie intiem met haar verkeer totdat haar Seun gebore is nie. En hy het Hom Jesus genoem” (Matteus 1:25 NLV).
Sommige mense is goed daarmee om iets dadelik te doen. Hulle pak dit summier aan, maar hulle is nie goed daarmee om dit end-uit te voer nie. Sommige mense kan lank aanhou, maar dit neem hulle 'n tydjie om dit te voltooi.
Jy moet goed wees met altwee as jy die opwindende geloofslewe wil lei wat God vir jou beplan het. Jy moet dadelik inspring en dit voltooi. Altwee vereis dat jy God aanhou vertrou.
Josef het nie verstaan wat Jesus se maagdelike geboorte beteken het nie; hy het nie verstaan dat Jesus God in 'n menslike gestalte sou wees nie. Hy het egter geweet wat God vir hom gevra het om te doen, dus het hy aangehou om God te vertrou. Hy was 'n pasgetroude wat nie 'n wittebrood gehad het nie en sy huwelik was nie soos hy beplan het nie, maar hy het steeds aanhou vertrou.
Wat sal jy doen as jou lewe nie uitwerk soos jy dit beplan het of wou hê nie?
Ek word altyd bemoedig deur wat die apostel Paulus in 2 Korintiërs 4:8 (DB) sê: “Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie.”
Ek weet nie hoekom sommige mense kanker kry nie. Ek weet nie hoekom sommige kinders teen hulle ouers rebelleer nie. Ek weet nie hoekom so baie dinge gebeur wat nie sin maak nie. Dit is dus bemoedigend om te hoor dat een van die bekendste gelowiges sê: “Ek weet nie hoekom dinge gebeur soos dit gebeur nie, maar ek kies om nie moed op te gee nie.”
Dis goed om te weet dat ons God kan vertrou en dat Hy dinge weet wat ons nie weet nie. Hy het belowe dat Hy eendag alles sal regstel. Eendag sal Hy almal bymekaar bring wat hul vertroue in Hom stel.
Tot dan is daar twee maniere hoe jy jou lewe kan leef. Jy kan leef asof God jou 'n verduideliking skuld óf jy kan leef en besef dat God wonderlike gawes vir jou gegee het.
As jy leef asof God jou 'n verduideliking skuld, sal jy net verbitterd word, want God skuld jou niks nie.
Selfs al skuld Hy jou niks nie, het Hy alles vir jou gegee. Hy het sy enigste Seun vir jou gegee. Hy het vir jou die geskenk van die ewige lewe gegee. Hy het vir jou die belofte gegee dat jy vir ewig saam met Hom sal wees. Dit is wonderlike gawes.
Luister na die onderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Wil jy alles word wat God bedoel het jy moet wees? Jy kan, maar nie in jou eie krag nie. As jy elke nuwe jaar soos die meeste mense is, het jy probeer om positiewe veranderinge aan te bring en dan moed verloor en teruggeval op jou ou vernietigende gewoontes. Hier is nou goeie nuus: met God se hulp kan jy op elke terrein van jou lewe positiewe veranderinge aanbring en daarmee volhou. Laat toe dat pastoor Rick jou wys hoe jy die beloftes in die Woord van God kan ontsluit en sy instruksies volg wat jou lewe op sewe belangrike terreine van binne-af sal herskep.
More