Aanbidding: 'n Studie in PsalmsVoorbeeld
Wat staan daar geskrywe?
Dawid het die Here geprys omdat Hy hom van al sy vrese en doodsgevare gered het.
Wat beteken dit
Dawid het hierdie psalm geskryf nadat hy 'n waardevolle les geleer het om God te vertrou. Hy het so bang geword vir Saul, dat hy na die vyand toe gehardloop het vir beskerming in plaas daarvan om op die Here te vertrou (1 Samuel 21). Hy het homself op 'n gevaarlike plek in die vyand se kamp bevind en buite die wil van God. Na 'n noue ontkoming het Dawid besef hoe dwaas hy was. Hy het dit wat hy geleer het aan die volgende geslag oorgedra: God sien die probleme van die regverdiges, hoor hulle gebede en is naby die gebrokenes. Die lewe sal nie sonder probleme wees nie, maar die Here kan redding bring, selfs sy engele stuur om 'n laer op te slaan rondom die regverdiges. Dawid se hart het oorgeloop van lof vir die Here, sy enigste ware skuilplek.
Hoe behoort ek te reageer?
Vrees kan ons dom dinge laat doen. Ongeag hoe buite beheer jou lewe mag voorkom, is dit altyd gevaarlik om dinge op eie stoom aan te pak. Op watter stadium in jou lewe was jy paniekerig en het jy iewers anders veiligheid gaan soek? Hoe het God jou gehelp nadat jy 'n dwase besluit geneem het? Die lesse wat jy in daardie tyd geleer het, is te waardevol om geheim te hou. Vir wie moet jy gaan vertel hoe God in jou lewe gewerk het? Iemand in jou sfeer van invloed moet hoor dat God sy of haar probleme sien en hulle kan red. Is jy gewillig om die lesse wat jy geleer het te deel en God se getrouheid vandag te prys?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die psalms is 'n versameling van gedigte en liedere wat meer as 1 000 jaar gelede geskryf is. Psalms bevat uitbundige lofprysing en treurige klaagliedere en die hele boek getuig van God se getroue liefde teenoor sy mense in elke omstandigheid. Dit vorm die middelpunt van aanbidding in die Ou Testament en elke psalm is vol verwagting vir die hoogtepunt van God se lof wat in die dood en opstanding van Jesus Christus plaasvind.
More