Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld
Lees: Johannes 7:1–52
SOAP: Johannes 7:28–29
"Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: 'Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.'”
Oordenking
Die Huttefees (sommige vertalings sê “Fees van Tabernakels” of“ Loofhuttefees”) was ‘n viering van verlossing. Dit was ‘n tyd toe die Joodse volk die uittog uit Egipte sowel as hulle terugkeer uit ballingskap in Babilon herdenk het. Hulle het die magtige dade wat God gedoen het om hulle van hulle vyande, uit slawerny en ballingskap te verlos, onthou. Hulle het ook uitgesien na die koms van ‘n verlosser. Terwyl baie verwag het dat die komende Messias hulle van die onderdrukking deur hulle vyande sou verlos en as koning regeer, het hulle nie besef dat die Messias hulle eers van sonde en dood sou kom verlos nie.
Jesus het in die geheim na die fees toe gegaan, en toe dit verby was, het Hy in die tempelhof begin preek. Die skare het nie sy onderrig verstaan nie en wou Hom aan die owerhede uitlewer. Hulle het geweet net die Messias kon daarop aanspraak maak dat Hy van God af kom, en hulle het geweet Jesus het in Nasaret grootgeword. Hy was van Galilea, en die Messias was veronderstel om van Betlehem afkomstig te wees. Hoe kon hierdie gewone man beweer dat Hy van God af kom, dat Hy God ken en die woorde van God spreek?
Jesus se uitsprake is egter waar. Hy is die Gestuurde van God. Net Hy ken God en Hy het God bekend kom maak. God het Hom gestuur en Hy spreek net die woorde van God. Al was daar goed wat die skare (Jesus se broers inkluis) omtrent Jesus geweet het, het hulle Hom nie geken nie omdat hulle Hom nie geglo het nie.
Jesus is nie net ‘n goeie man nie — Hy is die God-man. Hy is volledig God en volledig mens; sy natuur kan nie geskei word nie. Hy is die Messias, die Christus, die verlosser van die wêreld. Ongeag wat die wêreld van Jesus sê, hierdie dinge verander nooit. Hy is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe.
Net soos die skare, kan dit maklik wees om te dink ons ken Jesus omdat ons dinge omtrent Hom gehoor het. Ons kon gehoor het dat Hy ‘n profeet, ‘n goeie mens, medemenslik of selfs ‘n man is wat deur God gekies is om ‘n boodskap oor te dra. Daar is ‘n verskil tussen om Jesus te ken en in Jesus te glo. As ons glo Hy is die Seun van God, glo ons dat sy sterwe in ons plek om die prys vir ons sonde te betaal, genoeg was. Ons glo dat sy offer ons saak met God regmaak en dat Hy lewend is, deur God se krag weer lewendig gemaak en dat Hy weer gaan kom. As ons ewig saam met Hom wil lewe, moet ons ons geloof in Hom en in Hom alleen plaas.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/