Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld
Lees: Johannes 7:53–8:59
SOAP: Johannes 8:12
"Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: 'Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.'”
Oordenking
Heel aan die begin van die Johannes-evangelie kry ons ‘n kykie op die toneel waarvan ons vandag lees. Johannes het die Woord voorgestel en Hom “die lig vir die mense” genoem (Johannes 1:4). Johannes vertel vir ons die Lig “skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Johannes 1:5). In vandag se Skriflesing verklaar Jesus aan die wêreld dat Hy die Lig is.
Soos ons genoem het, is Johannes se evangelie nie ‘n hervertelling van die gebeure in Jesus se bediening nie, dit is ‘n weldeurdagte argument wat verduidelik waarom Jesus die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe is. In die toneel waarvan ons vandag lees, spreek Jesus op die laaste dag van die Huttefees die skare en godsdiensleiers toe.
Op die afsluitingsdag van die fees is kerse seremonieel in die buitehof van die tempel aangesteek. Dit was ‘n herinnering aan hoe God as ‘n vuurkolom die Israeliete in die wildernis gelei het. Hy het lig in die duisternis voorsien, sodat hulle kon sien waarheen hulle moes gaan (Eksodus 13:21-22). Die mense sou God dan aanbid en hulle aan Hom, die God van Lig, weer toewy.
In die middel van dié dag waarop die God van die Uittog en die Lig wat sy mense uit die duisternis gelei het, vereer is, het Jesus verklaar: “Ek is die lig vir die wêreld! Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Die Fariseërs het teen Jesus beswaar gemaak en ontken dat Hy enige gesag het om Homself as die Lig te verklaar. Maar Jesus het. Hy is die Een wat die duisternis verlig, en die weg na verlossing en die ewige lewe voorsien. Toe Jesus hierdie uitspraak naby die tempel gemaak het, het Hy verklaar dat die lig nie meer van die tempel sou kom nie, maar van Hom, die Heilige van God.
Johannes het Jesus se uitspraak oor Homself gebruik om weer vir sy lesers te wys hoe Jesus die God van verlossing is. Toe Jesus daarop aanspraak gemaak het dat Hy die Brood van die Lewe is, het dit die Jode herinner aan die manier waarop God manna in die wildernis voorsien het. Toe Jesus beweer het dat Hy die Lig vir die Wêreld is, het Hy weer eens die mense herinner aan die manier waarop God sy volk uit slawerny verlos en in hulle behoeftes voorsien het. Hy is die Een wat uit die duisternis lei selfs as ons nie besef in watter duisternis ons verkeer nie. Hy is die Lig, die Lewe, wat nooit deur die duisternis en boosheid oorweldig word nie, maar dit in plaas daarvan oorwin sodat ons die ewige lewe met Hom kan hê.
Aangaande hierdie leesplan
Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/