Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld
Lees: Johannes 10:22–42
SOAP: Johannes 10:27–28
"My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie."
Oordenking
Jesus se aanspraak dat Hy die goeie Herder is, het plaasgevind aan die einde van die huttefees, 'n fees wat tydens die herfs gevier is. Die gebeure van die fees van die tempelwyding, wat maande later eers gevier is, kom onmiddellik na die huttefees in Johannes se evangelie. Ons leer egter verder dat Jesus die goeie Herder is. Alhoewel die gebeure nie onmiddellik na mekaar plaasgevind het nie, gebruik Johannes albei tonele om die waarheid dat Jesus die goeie Herder is, tuis te bring.
Tydens die fees het die Joodse leiers vir Jesus gevra om reguit vir hulle te sê of Hy die Messias is. Jesus wou dit nie vir hulle sê nie. Nadat ons Johannes se evangelie gelees het, weet ons dat Jesus die Messias is. Ons het gesien hoe Jesus teenoor die Samaritaanse vrou aanspraak gemaak het dat Hy die Messias is. Ons het ook gesien hoe Jesus se dissipels bevestig dat Hy die Messias is nadat hulle die tekens gesien het wat Hy gedoen het. Maar hierdie Joodse leiers het geweier om hierdie tekens en aansprake te glo.
Jesus se reaksie stel 'n vraag wat ons almal onsself moet afvra: is ek een van Jesus se skape? Luister ek na sy stem en volg ek Hom? As ons sy skape is, het ons die ewige lewe en niks kan ons van Hom skei nie. Hy is die goeie Herder wat sy skape beskerm en verdedig. As ons glo dat Jesus die Seun van God is en die enigste weg na die ewige lewe, is ons sy skape. As sy skape word ons nie net deur Jesus, die goeie Herder, beskerm nie, maar ons word deur God die Vader vasgehou.
Jesus het sy eenheid met God die Vader uitdruklik verklaar. Die Joodse leiers wou Hom stenig omdat Hy beweer het dat Hy God is. As ons sy skape is, glo ons nie net dat Jesus die goeie Herder is nie, maar dat Jesus een met die Vader is. Een van die kern leerstellings van die Christelike geloof is geloof in die drie-eenheid van God, dat Hy een God is in drie persone, Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is goeie nuus vir almal wat in Hom glo – want dieselfde krag van God bestaan in die Seun, die goeie Herder, die Een wat ons van sonde en dood verlos en ons die ewige lewe bied.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/