Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld
Lees: Johannes 11:45–12:11
SOAP: Johannes 11:51–52
"Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring."
Oordenking
Lasarus se opstanding was ‘n belangrike gebeurtenis. Baie mense was by sy graf en het gesien hoe hy uitkom. Hierdie mense het gesien wat Jesus gedoen het en in Hom geglo. Van die getuies het na die Fariseërs gegaan, wat alreeds ‘n rede gesoek het om Jesus dood te maak. Die Fariseërs en die heersende raad was bang dat as die Romeine sou uitvind van ‘n Joodse Messias of iemand wat die Jode as ‘n koning beskou het, die volk Israel vernietig sou word. Die Romeine het enigiemand doodgemaak wat verraad teen die keiser gepleeg het en ‘n Joodse koning en enigiemand wat hom gevolg het, sou beslis teen Rome wees.
Hulle het besluit Jesus moet sterf. Hulle het geglo as een persoon sou sterf, maar die hele volk gered word, sou sy dood die moeite werd wees. Wat hulle nie besef het nie, was dat Jesus se dood hulle nie van die Romeine sou red nie, maar dat dit die wêreld van sonde en dood sou red.
Die opwekking van Lasarus uit die dood het gelei tot die dood van Jesus: die dood van Jesus het tot lewe vir die wêreld gelei. God is verheerlik deur die opwekking van Lasarus en meer nog, verheerlik deur die dood en opstanding van Jesus. Jesus sou sterf sodat baie sou glo en gered word. Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe; sy dood bring lewe vir almal wat in Hom glo.
Maria se offer was een van aanbidding. Sy het gesien hoe Jesus magtige werke in haar lewe doen, insluitende om haar broer uit die dood op te wek. Sy het sy opstandingskrag in aksie gesien en haar liefde vir Jesus deur hierdie uitspattige daad geopenbaar. Maria se offer was ook een van voorbereiding. Sy het Jesus gesalf soos ‘n mens ‘n liggaam sal salf vir ‘n begrafnis, wat Jesus so erken het. Of Maria dit verstaan het of nie, word nie genoem nie maar Jesus het beslis geweet wat sou kom en Hy het Maria se daad van aanbidding aanvaar.
Dit is ‘n deurslaggewende toneel in Johannes se evangelie. Van hierdie punt af voel ons die dringendheid en nabyheid van Jesus se dood. Jesus het geweet. Hy het geweet sy dood kom en kom vinnig. Elke toneel van hierdie punt af is bedoel om vir die leser te wys wat gaan gebeur.
Ons is veronderstel om groot kontras in hierdie gedeelte te sien, van diegene wat in Jesus geglo het tot diegene wat Hom aangekla het, van die Fariseërs wat probeer het om Hom dood te maak, tot Maria wat Hom voor sy dood geëer het. Hier word ook weer gewys dat Judas vir Jesus sou verraai. Johannes bou spanning en afwagting op na die laaste hoofstuk van Jesus se openbare bediening en die laaste dae wat sy kruisiging binnegaan.
Aangaande hierdie leesplan
Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/