Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 33 VAN 43

Lees: Johannes 13:1–30

SOAP: Johannes 13:20

"Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het."

Oordenking

Johannes 13 is die oorgang van Jesus se openbare bediening na sy private bediening. Jesus het saam met sy dissipels, sy twaalf naaste vriende en volgelinge, 'n maaltyd geniet. Jesus het geweet wat sou kom: Hy het geweet God het alle dinge aan Hom oorgegee, Hy het geweet Hy is van God en gaan terug na God toe en Hy het geweet dat Judas, een van sy eie, Hom gaan verraai.

Aan die begin van die maaltyd het Jesus ‘n handdoek en ‘n bak geneem en sy dissipels se voete gewas. Normaalweg was hierdie verantwoordelikheid vir die slaaf van die huishouding gereserveer. Dit was ‘n normale taak vir ‘n slaaf, maar vir die eienaar van ‘n huis om Homself te verootmoedig en die voete van sy gaste te was, was ongehoord. Jesus se optrede het alle sosiale norme en alle idees van hiërargie weerspreek. Jesus het Homself verneder tot die rol van 'n slaaf om vir sy dissipels te wys hoe hulle moes optree in sy afwesigheid. Jesus het nederigheid, diensbaarheid en liefde aan sy dissipels betoon deur hulle voete te was. Hy was die voorbeeld en Hy het hulle opdrag gegee om te doen soos Hy gedoen het.

Soos God vir Jesus na die wêreld gestuur het, sou Jesus sy dissipels na die wêreld toe stuur. Hier, by hulle laaste maaltyd saam, was Jesus vir hulle ‘n voorbeeld en gee Hy opdrag hoe hulle as sy boodskappers moes lewe. Net soos Hy nie groter as die Vader is nie, die Een wat Hom gestuur het, was sy dissipels ook nie groter as Jesus nie. Jesus het hulle opdrag gegee om mekaar te dien en mekaar nederig lief te hê soos Hy hulle liefgehad het.

Die dissipels het Christus aangeneem en op hul beurt die Vader aangeneem. Diegene wat dié wat Jesus stuur aanvaar, aanvaar Hom ook. Diegene wat die getuienis van hierdie dissipels aanvaar en glo, aanvaar en glo vir Jesus self. Soos die hiërargie tussen slaaf en meester, is daar ‘n hiërargie tussen die een wat uitstuur en die boodskapper. Jesus is die een wat sy dissipels na die wêreld stuur om in nederigheid te dien, mekaar lief te hê en die boodskap van die waarheid aan die wêreld te bring; Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe. Die dissipels is deur Jesus gestuur en diegene wat op hulle gereageer het, het op Jesus gereageer. Om getuies van Jesus te wees, moes die dissipels soos Jesus optree. Hierdie voorbeeld van diensbaarheid, liefde en nederigheid is hoe volgelinge van Jesus Hom by die wêreld moet verteenwoordig. Dit beteken nie altyd om voete te was nie, maar dit beteken om sosiale druk en persoonlike gemak teen te staan om Hom bekend te maak.

Dag 32Dag 34

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/