Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 32 VAN 43

Lees: Johannes 12:12–50

SOAP: Johannes 12:44–46

"Toe het Jesus uitgeroep: Wie in My glo, glo nie in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”

Oordenking

In ons leesstuk vandag sien ons die laaste gebeure van Jesus se openbare bediening. Jesus het Betanië vyf dae voor Pasga verlaat, die oggend nadat Maria olie op sy voete uitgestort het. Jesus het geweet die Fariseërs en owerpriesters wou Hom doodmaak, maar Hy het ook geweet wat Hy moes doen. Toe Jesus Jerusalem binnegaan, het baie wat in Hom geglo het, Hom geprys en geseën terwyl Hy die stad binnery.

Meer mense het na Jesus in Jerusalem gekom en wou Hom leer ken. Jesus het geweet sy tyd het aangebreek en Hy sou nie meer wonderwerke doen nie. In plaas daarvan het Hy weer die weg na die ewige lewe verduidelik: deur in Hom te glo. Sy doel was om die Vader te verheerlik deur vir die sonde van die wêreld te sterf sodat ons toegang tot God en die ewige lewe kan hê. Die skare het nie verstaan nie en het steeds nie erken dat Jesus gekom het om te sterf en nie om te regeer nie. In die laaste ure van Jesus se openbare bediening het baie steeds geweier om in Hom te glo ten spyte van al die wondertekens wat Hy gedoen het.

In sy laaste woorde aan die skare het Jesus weereens sy identiteit en doel verduidelik, en ook sy gesag bevestig. Jesus is God geїnkarneer, God wat vlees geword het. Sy doel is om God te verheerlik. Wanneer ons in Jesus glo, glo dat Hy die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe is, glo ons in die Vader. Hy is die Lig wat duisternis verwyder en lewe gee.

Dit is bedoel om ons te herinner aan die opening van Johannes se evangelie waar Jesus voorgestel word as die lig van die Wêreld, asook Jesus se eie verklaring dat Hy die Lig van die Wêreld is. Wanneer ons in Hom bly, is ons vry van die duisternis van sonde. Terwyl die wêreld dalk in duisternis wil bly, behoort gelowiges in Christus aan die lig. Hierdie Lig bring lewe en sonder die Lig ken ons nie vir God nie.

Jesus is die Lig van die Wêreld. Wanneer ons in Hom glo, glo ons nie net in sy boodskap en sy getuienis nie, maar ons glo in die Een wat Hom gestuur het. Sonder Hom bly ons in die duisternis. Hy het gekom om ons uit hierdie duisternis te red en om ons in die lig te bring.

Dag 31Dag 33

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/