Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 35 VAN 43

Lees: Johannes 15:1-16:33

SOAP: Johannes 15:1

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.”

Oordenking

Vandag se verse vind weereens plaas gedurende Jesus se laaste aand saam met sy dissipels voor sy kruisiging. Jesus het reeds hulle voete gewas, sy verraaier uitgestuur, aangekondig dat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is, en die bediening van die komende Heilige Gees begin verduidelik. In vandag se leesstuk was die maaltyd voltooi en Jesus het laaste opdragte en waarskuwings aan sy dissipels gegee. Voor hierdie waarskuwings en opdragte sluit Johannes die laaste verklaring van Jesus in: “Ek is die ware wingerdstok.”

In die eerste teken wat Johannes gebruik het om vir ons te wys dat Jesus die Seun van God is en die enigste weg na die ewige lewe, het Jesus water in wyn verander. Wyn kom van druiwe wat aan ’n wingerdstok groei, ’n vrug wat oorvloedig in die streek van Jerusalem was. Wanneer takke van die wingerdstok geskei word, begin hulle doodgaan en produseer hulle nie meer vrugte nie. Wanneer die takke egter aan die wingerdstok, hulle bron van lewe, bly, dra hulle baie vrugte.

Jesus het sy dissipels en al sy volgelinge beveel om in Hom, die ware Wingerdstok te bly. Wanneer ons in Hom bly, vereer ons die Vader en wys ons ons is sy dissipels. As ons begin om ons lewens los van die ware wingerdstok te leef, sal ons verdor. Ons put lewe uit Jesus, deur elke dag aan Hom vas te klou.

Wanneer ons in Jesus bly, kan ons sy opdrag volg om mekaar lief te hê. Wanneer ons in sy liefde bly, gehoorsaam ons sy gebooie en het ons lief soos Hy ons liefhet. Jesus toon die vlak van toewyding wat ons moet hê in liefde vir ons broers en susters in Christus: ons moet bereid wees om ons lewens vir ander af te lê soos Jesus sy lewe vir ons afgelê het.

Alhoewel ons dalk nie almal omstandighede van lewe en dood in die gesig staar as gevolg van ons geloof nie of met ’n keuse gekonfronteer word om ons lewe vir ’n ander af te lê nie, sal sommige van ons dit wel ervaar. Jesus het die dissipels gewaarsku oor wat gaan kom: die wêreld sal hulle haat omdat dit Hom haat. Die wêreld sal altyd volgelinge van Christus vervolg. Jesus het hierdie waarskuwings en opdragte gegee sodat ons in Hom sal bly. Al sal ons moeilikheid, dood en vervolging in die gesig staar, kan ons in Hom bly. Hy is die ware bron van lewe. Hy is die wingerdstok wat ons onderhou, vir ons voorsien en ons bewaar. Mag ons in Hom glo en aan Hom vashou as die ware wingerdstok, maak nie saak wat kom nie.

Dag 34Dag 36

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/