Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld
Lees: Johannes 6:59–71
SOAP: Johannes 6:68–69
"Simon Petrus het Hom geantwoord: 'Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.'”
Oordenking
Noudat ons amper die halfpadmerk in ons studie van die Johannes-evangelie bereik het, kom ons voor ‘n beslissende vraag te staan: Gaan ons Jesus verlaat wanneer sy onderrig te moeilik raak? Op hierdie punt in Johannes se evangelie het ons Jesus vyf wondertekens sien doen. Hy het water in wyn verander, Hy het ‘n amptenaar se seun genees, Hy het ‘n verlamde man genees, Hy het meer as vyfduisend mense gevoed, en Hy het op water geloop. Ons het baie getuienisse oor Jesus gehoor, van Johannes die Doper tot sy eerste dissipels tot ‘n Samaritaanse vrou.
Jesus het so pas sy eerste uitspraak oor Homself gemaak. Hy het gesê: “Ek is die brood van die lewe.” Hy het hulle geleer dat Hy die enigste weg na die ewige lewe is, en dat elkeen wat in Hom glo, hierdie lewe sal hê. Baie het egter nie verstaan nie. Baie in die skare het met Hom geargumenteer en vyandig geraak. Boonop het baie van sy dissipels gedink hierdie onderrig is te moeilik en hulle het ook weggegaan.
Uiteindelik het Jesus vir sy twaalf dissipels, dié wat die naaste aan Hom was, gevra of hulle Hom ook as gevolg van sy onderrig wil verlaat. Petrus het in geloof gereageer. Al was die onderrig moeilik, het die twaalf gebly omdat hulle geglo het Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe.
Petrus se belydenis is ‘n draaipunt in die vertelling. Tot op hierdie punt in Jesus se openbare bediening is Hy meestal aanvaar. Met die uitsondering van ‘n paar meningsverskille met godsdiensleiers, het die mense na Jesus gestroom omdat hulle gehoor het van die tekens en wonderwerke wat Hy gedoen het. Hy het siekes gesond gemaak en kos voorsien. Van hier af sien ons egter ‘n verskuiwing. Die skare en godsdiensleiers raak al meer vyandiggesind teenoor Jesus en verwerp Hom oor sy uitsprake. Hulle geloof was oppervlakkig. Hulle het Hom liefgehad terwyl Hy wonderwerke gedoen het, maar toe hulle sy onderrig nie verstaan nie, het hulle Hom verlaat.
Ware geloof vereis volharding en toewyding. Ware geloof vereis nie net geloof nie, maar gehoorsaamheid. Petrus en die elf ander dissipels het dit verstaan. Verstaan ons? Mag ons werklik terwyl ons hierdie deel van die Skrif bestudeer, met hierdie vraag worstel: Gaan ons Jesus verlaat as sy onderrig te moeilik is, of gaan ons by Hom bly omdat ons glo dat slegs Hy die woorde van die ewige lewe het?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/