Om Dankbaarheid te KiesVoorbeeld

Choosing Gratitude

DAG 4 VAN 10

Dag 4: Vir Skoonheid 

Moet nooit 'n geleentheid laat verbygaan om enigiets pragtigs raak te sien nie, want skoonheid is God se handskrif.

— Ralph Waldo Emerson

Die lewe is gevul met skoonheid. Sien dit raak. Sien die hommelby, die klein kindjie en glimlaggende gesigte raak. Ruik die reën en voel die wind. Lewe voluit om jou volle potensiaal te verwesenlik, en veg vir jou drome.

— Ashley Smith

Smith gee ons 'n opdrag:  Sien die skoonheid raak.

Dit is dalk nodig dat ons 'n afspraak met skoonheid moet maak om dit te herontdek. Wanneer ons tyd opsy sit, alle materiële dinge laat staan en ‘n bietjie vars lug kry.

Stop. Haal asem. Sien raak.

Die natuur se skoonheid het 'n manier om my stil te maak; my nuwe insig te gee. Met blare helderder as die somberheid in my hart en bome groter as al my vrese, kry ek 'n nuwe uitkyk op my klein probleme. 

Bome en riviere, heuwels en mere, sonsondergange en 'n hemelruim in enige kleur wat jy begeer – míts ek tyd daarvoor maak. Kan ons vandág tyd maak? Kan ons alleen gaan stap (net vir TIEN minute), met die doel om die skoonheid raak te sien? Kom ons doen dit. ‘n Oop hemelruim kan harte verlig. 

Dan is daar ook "God se handskrif,” soos Emerson skoonheid noem. Dié soort wat opgesluit is in die verloop van ons daaglikse roetine.

Soos wanneer ons aan die gang is. Wanneer ons heeldag besig bly. Ons hoor die lawwe gegiggel van ‘n ouer kind wat die jongste rondjaag, terwyl ons die skottelgoedwasser uitpak. Sonstrale val in aanloklike patrone op die trappe, terwyl ons die opgevoude wasgoed na die slaapkamers toe neem. Ons kry 'n pa en sy seun besig om vir mekaar in die straat bal te gooi, terwyl ons by die oprit uitry.

Is ons dan nie dankbaar nie? Vir die skoonheid wat ons ontdek wanneer ons stilstaan, en vir die skoonheid wat stilstaan en óns ontdek.

Skoonheid genees, herstel en maak die las ligter. Skoonheid bring prag daar waar ons gedink het geen prag was nie. Skoonheid gee lig in die duisternis. Skoonheid gee hoop te midde van wanhoop. 

Ons sal beslis skoonheid vind wanneer ons ontvanklik is vir die idee dat skoonheid soveel meer is as wat die oog kan sien. 

Vader God, dankie vir skoonheid. Dit is u geskenk, u skeppingsvreugde, u vars lug vir ons moeë longe. Help ons om die skoonheid raak te sien. Om dit raak te sien selfs wanneer ons dit ignoreer; dit raak te sien in die geraas en warboel van die lewe. Dankie vir die natuur, mense, kuns, sportwedstryde en klein, taai vingertjies, asook harte vol ideale.

dag_4
Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Choosing Gratitude

Daar is so baie van ons wat gefrustreerd, angstig en met 'n gevoel van oorweldiging lewe. Ons hoef nie so te lewe nie. Nuwe gewoontes kan gevorm word. Nuwe hoop kan gevind word. Vreugde is net om die draai. Hoe kom ons daar? Die geestelike oefening van dankbaarheid is dikwels die verlore sleutel om die hoop, vreugde en prag rondom ons te ontsluit.

More

Ons bedank graag vir Amy Seiffert wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief http://www.amyseiffert.com/