Om Dankbaarheid te KiesVoorbeeld

Choosing Gratitude

DAG 5 VAN 10

Dag 5: Vir Kinders

Die siel genees in die teenwoordigheid van kinders.

— Fyodor Dostoyevsky

Hy is besig om aan my denimbroek te pluk met 'n karretjie in sy hand en sê: "Mamma, karretjies speel? Jy karretjies speel? Jy speel?" Ek staan by die wasbak voor 'n stapel skottelgoed wat die stapels in my gedagtes weerspieël. Die stapels daaglikse aktiwiteite, sperdatums, wasgoed, drome. 

Hy wil speel. Hy is twee jaar oud en wil speel.

Op die agtergrond sit my negejarige seun op die rusbank, besig om ‘n Harry Potter-boek te lees. Hy vra amper nooit meer of ek saam met hom op die vloer wil speel nie. Dalk bordspeletjies of om die sokkerbal rond te skop. Meestal verkies hy dit om met sý ouderdomsgroep te speel.

Ek is by 'n kruispad. Ek kan vir my tweejarige sê ek sal binne 'n minuut kom saamspeel, in die hoop dat die minuut 20 minute sal word; dat hy miskien tred met die tyd sal verloor terwyl hy speel, en ek take GEDOEN kan kry. Immers blyk moederskap ‘n taak te wees wat nooit afgehandel word nie. 

Ek het 'n keuse.

Ek sien hom reg voor my met sy dierbare sagte klein handjie, blonde hare soos dié van 'n engel en groot blou oë; pleitend dat ek moet speel. Ek dink daaraan om dankie te sê en dankbaar te wees.

Ek het besluit om alles te los, op die vloer te gaan sit, my alledaagse dinge eenkant toe te skuif, en op my knieë saam te speel.

Dankbaarheid wel in my op wanneer ek op die vloer gaan sit.

Is ons dan nie dankbaar nie? Vir kinders wat weet hoe om te speel. Hulle weet hoe om die Zoom-toep te gebruik, hoe om te giggel, fantastiese stories en idees te fabriseer, en te sê ek lyk mooi in my sweetpak en pet. 

Kinders weet hoe om vir iets te vra. Kinders weet hoe om dinge te maak. Kinders weet hoe om hulself (en enigeen) na enigiets uit te nooi. Kinders weet hoe om in verwondering te wees, oordrewe stories te vertel en om die lewenspas stadiger te maak. Dit sal goed wees as ons onthou wat ons by hierdie jong onderwysers hoor en sien.

Diegene met kinders in die huis, mag dalk dink geen innerlike genesing, soos deur Dostoyevsky voorgestel word, gebeur wanneer ons by ons kinders is nie. Wanneer ons 'n eerlike groep mense is (laat ons asseblief ‘n eerlike groep wees), dan mag die gedagte van innerlike genesing dalk beteken om 'n dag weg van die alledaagse te wees, 'n aand uit te geniet en 'n Saterdagoggend nie te werk nie. Daar is geen rede om daaroor skaam te wees nie. Die begeerte om te rus is 'n werklikheid.

Om kinders te leer, groot te maak en te help, is nie vir bangbroeke nie. Dit is vir diegene wat laag kan afdaal; oë loodreg op die WÊRELD gerig en tot stilstand kan kom. Dit verg ‘n moedige mens om tot stilstand te kom. Om laag af te daal. Om te speel.

Ek is dankbaar wanneer ek in klein ogies en hartjies kyk, na hulle verhaaltjies luister, vir hulle soentjies op hulle magies gee en sien hoe kommervry hulle lewe. Dankbaar dat ons nie ons bekommernisse en sorge op hulle dierbare klein skouertjies afgelaai het nie, en hulle sonder kommer en met vreugde kan speel. Hulle kan speel sonder om die horlosie dop te hou en sonder om sperdatums te onthou. Hulle kan in in 'n fantasiewêreld met feetjies, seerowers en resiesmotors speel. Dit is genesend.

Hulle sorgeloosheid bring vir my genesing. 

Hulle lawwigheid verlig die omgewing.

Hulle onskuld moedig ons aan om te sing.

Ons kan daaroor dankbaar wees. Mag ons vandag 'n kind vierkantig in die oë kyk en tot hulle vlak afdaal. Mag ons na een van hulle stories luister, deel van hulle wêreld word, hulle sorgeloosheid beleef en die genesing ervaar wat dit bring. 

Vader God, dankie vir sorgelose, skeppende en lieflike kinders. Dankie dat hulle veerkragtig, vol verwondering en vrae is en gedagtes het om te deel (so BAIE gedagtes om te deel!).  Dankie dat hulle kommervry en snaaks, asook klein van postuur en lighartig is. Dankie dat U hulle geskape het, vir hulle lief is en dat U planne vir hulle het. Dat U goeie, goeie planne vir hulle het. 

dag_5
Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Choosing Gratitude

Daar is so baie van ons wat gefrustreerd, angstig en met 'n gevoel van oorweldiging lewe. Ons hoef nie so te lewe nie. Nuwe gewoontes kan gevorm word. Nuwe hoop kan gevind word. Vreugde is net om die draai. Hoe kom ons daar? Die geestelike oefening van dankbaarheid is dikwels die verlore sleutel om die hoop, vreugde en prag rondom ons te ontsluit.

More

Ons bedank graag vir Amy Seiffert wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief http://www.amyseiffert.com/