Om Dankbaarheid te KiesVoorbeeld

Dag 3: In Pyn
"Lyding is ondraaglik as jy onseker is of God aan jou kant is en by jou is ... eintlik is lyding die hooftema van die Christendom se verhaal."
— Tim Keller, Walking with God through Pain and Suffering
Êrens langs die pad het ons dalk gehoor dat pyn 'n nuttige hulpbron vir ons is. Dit sê vir ons êrens is daar 'n fout. Iets moet ophou. Iets moet ernstig verkeerd wees.
Wat beteken dit dus om dankbaar te wees terwyl ons pyn ervaar? Pyn is 'n leermeester – as ons dit toelaat. Soos met alle goeie leermeesters, soek ons hulle jare later op en sê: Dankie. Jy het my vorentoe gestoot, gedruk, aangepor ... en kyk nou. Danksy jou, is ek wie ek is.
Pyn en moeilikhede is nie vir God vreemd nie. In die omvangryke beskrywing van God se eie verhaal, sien ons hoe sy Seun deur sy beste vriende verraai is, daarna geslaan, gemartel, gegesel, geskend en aan 'n kruis vasgespyker is. Dit het gebeur nadat Hy verneem het dat sy dierbare neef onthoof is. Nadat Hy van aangesig tot aangesig met siekte en bose geeste gekom het. Nadat Hy die skade gesien het wat sonde aan ons wêreld gedoen het.
Daar is só baie lyding, pyn, dood.
Dan vra ek jou om daaroor dankbaar te wees?
Wat ek vra is om net vir 'n oomblik gewillig te wees om die skoonheid te oorweeg wat uit die negatiewe kan kom. Babas word na inspanning gebore … na die nabydood-ervaring tydens ‘n pynlike kraamproses.
”… As die koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in” (Johannes 12:24).
Daardie Sondag het ná die verraderlike Vrydag gekom.
Na die winter is dit lente. Verstommend. Elke. Liewe. Keer.
Ongelukkig funksioneer ons deurmekaar wêreld so. Ons kan nie die een sonder die ander kry nie. Op aarde is pyn en vreugde verbind; ons kan daaroor verbitterd wees óf ons kan daarby baat vind.
My liewe leser, ek sê dit nie ligsinnig en gevoelloos asof ek nie pyn ken nie. Ek stel dit sagkens; met baie deernis.
Ek het gesien hoe kanker lewens eis. Ek het op badkamervloere saam met veels te veel jong weduwees gehuil. Ek is al vir baie jare kwaad oor onvrugbaarheid in my lewe. Ek het in hospitaalgange gehuil nadat ons verneem het my seun het Crohn se siekte. Ek het oor eggenote wat gesterf het, babas wat gesterf het, verlore onskuld, verlore poste, verlore hoop en verlore drome getreur.
Om nie eens van die verskeidenheid dinge te praat, waarteen ons almal op aarde stry nie. Ons stry teen angstigheid, besluite en onsekerhede, om 'n paar te noem.
Wat kan ons dus oor dankbaarheid tydens pyn en stryd sê? Ons kan dankbaar wees vir hierdie drie waarhede:
1) "… En onthou: Ek is BY julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20).
2) "Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is VÍR ons, wie kan dan teen ons wees?” (Romeine 8:31).
3) "… Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, Jy is Myne … Ek is by jou ... want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder …” (Jesaja 43:1-3).
My Koning ken pyn, my Koning ken my en my Koning is hier. Ek is dankbaar daaroor. Hy sien elke traan, ken elke traan, versamel elke traan in sy kruik (Psalm 56:9 AFR53). Wat 'n liefdevolle, aangename waarheid. Hy word nóóit moeg vir ons trane nie en Hy stry saam met ons.
Hemelse Vader, dankie dat U gedurende die stryd by ons is. U deel ons pyn en hartseer, asook dit wat vreesaanjaend en 'n werklikheid is. Dankie dat U nooit ver weg, onbeskikbaar en skaam oor ons pyn, stryd, swakheid en onsekerhede is nie. Dankie dat U pyn ken, gekies het om dit te verdra en nie te ontwyk nie; en vir ons kom wys het om pyn te hanteer, want ons leer daardeur. Dankie dat U daar is VIR ons; U het ons geskape daarom gee U vir ons om. Aangesien dit so is dat U aarde toe gekom het om by ons te wees, dan is U aan ons kant. Help ons Vader, in ons stryd en in ons pyn.
Aangaande hierdie leesplan

Daar is so baie van ons wat gefrustreerd, angstig en met 'n gevoel van oorweldiging lewe. Ons hoef nie so te lewe nie. Nuwe gewoontes kan gevorm word. Nuwe hoop kan gevind word. Vreugde is net om die draai. Hoe kom ons daar? Die geestelike oefening van dankbaarheid is dikwels die verlore sleutel om die hoop, vreugde en prag rondom ons te ontsluit.
More