Gewoontes vir GelukVoorbeeld
Gewoonte vir Geluk: Moenie oor die klein goedjies bekommerd wees nie
Is jy ooit oor die klein goedjies bekommerd, of baklei jy daaroor? Natuurlik. Ons almal doen dit! Dis moeilik om van daardie gewoonte ontslae te raak, want ons is van nature negatief. Sedert Adam en Eva se tyd maak ons verskonings en beskuldig ons. Ons maak verskoning vir ons eie foute en beskuldig dan ander vir hulle foute — en nog meer. Ons kruip weg en ons gooi klippe. Ons blameer ander vir die probleme in ons lewens.
Filippense 2:14-15 sê dít: "Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan ..." Dit tel onder een van die moeilikste verse in die Bybel. Stem jy nie saam nie?
Daar is vier soorte klaers wat ek gereeld teëkom.
Eerstens is daar die kermkouse. Jy staan in die oggend op en sê: "Goeiemôre Here!" Hulle kies eerder om te sê: "Ag Here, dis al weer oggend!"
Tweedens is daar die martelaars. Hulle gunsteling uitdrukking is: "Niemand waardeer my nie!" Hulle weet presies hoe om jammer te voel vir hulleself. Hulle mor en kla as hulle nie kry wat hulle wil hê nie.
Derdens is daar die siniese mense. Hulle houding is: "Hoekom moet ek probeer? Dit gaan geen verskil maak nie." Hulle vergiftig alles.
Vierdens is daar die perfeksioniste. Niks is ooit goed genoeg vir hierdie klaer nie. Hulle sê graag: "Is dit die beste wat jy kan lewer?"
Die skrikwekkendste vers in die Bybel, vir my, is Matteus 12:36: "Dit sê ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag."
Dit behoort jou hoendervleis te gee. Hoeveel keer het jy gekla, gekerm of baklei oor iets wat nie saak gemaak het nie? Moenie oor onbenullighede bekommerd wees nie.
Maak eerder soos 1 Tessalonisense 5:18 sê: "Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag."
Luister na die klankonderrig |
Aangaande hierdie leesplan
Sluit by Pastoor Rick aan vir hierdie reeks wat jou sal help om daaglikse gewoontes te kweek en wat jou 'n gelukkige persoon sal maak. Stap saam deur Filippense, die gelukkigste boek in die Bybel.
More