40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Liefde Maak Tyd vir Ander
Weeklikse oorsig:
In Jakobus 2:26 lees ons dat "… die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood [is]." Om die lewensvolheid te ervaar wat deur geloof aan ons geskenk word, moet ons daders van die Woord word. Ons moenie net Sondae ons liefde voor God bely en dan Maandag lewe asof God nie teenwoordig is, bestaan of goed is nie. Mag jou geloof hierdie week lewend word namate jy daarna streef om te doen wat die Woord sê.
Skrifgedeelte: "Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. Skielik kom daar ‘n man aan. Dit was Jaïrus, ‘n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud …" Lukas 8:40-42.
Oordenking:
Die storie in Lukas 8:40-42 en 49-56 gee vir ons insig in Jesus se liefde vir mense in nood. Lukas skryf die volgende:
"Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. Skielik kom daar ‘n man aan. Dit was Jaïrus, ‘n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, want sy enigste dogter het op sterwe gelê … Terwyl hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: 'U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.' Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: 'Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.' Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus en die kind se pa en ma. Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: 'Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.' Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is. Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: 'Dogtertjie, staan op!' Haar lewe het teruggekom en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was verstom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het."
Jesus het tyd vir mense in nood gemaak. Hy was nie te besig om dít waarmee Hy besig was (die verkondiging van die evangelie aan ‘n groot groep mense) te los, en tyd vir een meisie te maak nie. Jesus het die hart van die Vader geopenbaar deur Hom oor ‘n enkeling te ontferm. Jesus het deurgaans tydens sy bediening gereeld tyd vir mense om Hom gemaak. Jesus was vir mense om Hom beskikbaar, ongeag of Hy ‘n maaltyd saam met die dissipels geëet het, op pad na Saggeus se huis was of tyd met klein kindertjies deurgebring het.
God doen vandag steeds dieselfde vir jou en my. Jesus se dood het vir ons die geleentheid geskep om gedurigdeur en elke dag met God te praat. God begeer om tyd vir ons te maak. Hy beskou ons behoeftes as belangrik. Jesus se bediening het God se Vaderhart aan ons geopenbaar — ‘n hart wat tyd vir sy kinders maak.
Aangesien ons hierdie week kyk na wat dit beteken om ‘n hoorder en ‘n doener van die Woord van God te wees, kom ons vra vir God hoe ons meer soos Jesus kan wees. Op watter maniere kan jy meer tyd vir die mense om jou maak? Sal jy kies om tyd met iemand wat in nood verkeer deur te bring, al laat jou program dit nie toe nie? Sal jy ander om jou belangriker as jouself ag? As jy vandag kies om ‘n doener van die Woord van God te wees, sal jy blydskap ervaar in ‘n lewe wat nie net om jou eie doelwitte en belange draai nie, maar tot voordeel van ander geleef word. Bring vandag tyd saam met God in gebed deur, en vra vir Hom om jou bewus te maak van hoe jy tyd vir mense in nood om jou kan maak.
Begeleide Gebed:
1. Dink na oor die Jesus-hart wat tyd vir mense in nood maak. Kies om Jesus as jou voorbeeld te gebruik.
"Terwyl hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: 'U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.' Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: 'Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.' Toe Jesus by die huis kom, het hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus en die kind se pa en ma" Lukas 8:49-51.
2. Wie het nodig dat jy vandag vir hulle tyd maak? Vra vir God om jou bewus te maak van iemand vir wie jy vandag waarlik lief kan wees.
3. Op watter manier kan jy vandag met iemand in nood tyd deurbring? Hoe sou jy kon tyd maak om te luister, te help of bloot net daar vir iemand te wees?
Liefde het krag. Dit het die krag om iemand na Jesus toe te lei, ‘n stukkende hart heel te maak en selfs iemand op die pad na ‘n herstelde verhouding met God te begelei. Dit is die moeite werd om vandag vir mense om jou tyd te maak. Jesus het nooit enige tyd gemors nie. Hy het alles in volmaakte ooreenstemming met die Vader se wil gedoen. Jy sal nie iets misloop as jy vandag vir iemand tyd maak nie. Volg die leiding van die Heilige Gees namate jy daarna streef om ander waarlik lief te hê.
Verdere Leeswerk: Lukas 19
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More