40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 27 VAN 40

Liefde Hoop

Weeklikse Oorsig:

In Jakobus 2:26 lees ons dat "… die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood [is]." Om die lewensvolheid te ervaar wat deur geloof aan ons geskenk word, moet ons daders van die Woord word. Ons moenie net Sondae ons liefde voor God bely en dan Maandag lewe asof God nie teenwoordig is, bestaan of goed is nie. Mag jou geloof hierdie week lewend word namate jy daarna streef om te doen wat die Woord sê. 

Skrifgedeelte: "Dit [die liefde] bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles" 1 Korintiërs 13:7.

Oordenking:

Deur Jesus se werk het ons hoop as ‘n anker ontvang. Vanweë God se beloftes oor sy teenwoordigheid in die hede asook met die koms van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde, kan ons vrede te midde van beproewings ervaar, vreugde te midde van vervolging beleef en met bestendigheid lewe selfs al voel dit vir ons niks werk in ons guns nie. In 1 Petrus 1:3-4 lees ons die volgende: "Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word." As gelowiges het ons onbeperkte kommunikasie met ons hemelse Vader as erfenis ontvang. Met hierdie erfenis word ons geroep om ons hoop aan ‘n verlore wêreld sonder hoop te bring. 

Die hoop wat jy verniet ontvang het, is nie bedoel om alleenlik in jou opgesluit te wees nie. Jy het ‘n getuienis oor Christus wat die mag het om lewens te verander. In 1 Korintiërs 13:7 lees ons die volgende oor die liefde: "Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles." As 'n draer van hoop is jy geroep om vir ander hoop op 'n beter lewe te bring. Jy is geroep om in mense te glo as niemand anders in hulle wil glo nie. God skenk aan almal ‘n oorvloedige lewe en verhouding met Hom, indien hulle Hom net eenvoudig wil leer ken. God het ook gekies om sy kinders te gebruik om die boodskap van hoop te gaan deel. Jou verlore en dooie lewe is verander na ‘n lewe gevul met die kragtige hoop van die evangelie. Niemand is meer sonder hoop nie. Die reddende genade van Jesus is vir almal beskikbaar. God roep jou om ander so lief te hê dat jy met woord en daad die werklikheid van sy liefde met hulle kan deel sodat hulle hoop ook op God gevestig kan wees. 

Jesus is die enigste hoop wat die wêreld het. Geen bedrag geld, geen vriende en geen politikus kan ons red van die vernietiging wat sonde bring nie. Die waarheid van God se onvoorwaardelike liefde en onverdiende genade is die enigste bron van redding en blydskap wat die wêreld het.

Wie om jou het dus vandag hoop nodig? Wie om jou het nodig om te hoor dat God ‘n plan vir hulle lewens het? Wie om jou het vandag hoop "onder alle omstandighede" nodig? Sonder hoop is daar geen liefde nie. Sonder hoop is daar geen evangelie nie. In jou is die hoop vir die hele mensdom opgesluit; die boodskap van verlossing deur Jesus Christus. Deel vandag daardie hoop met diegene om jou, wat ‘n dringende behoefte aan ‘n herstelde verhouding met hulle hemelse Vader het.

Begeleide Gebed:

1. Dink na oor die hoop wat jy in Jesus het. Laat die volgende Skrifgedeelte jou herinner aan die vernietiging wat vir jou sou voorlê as jy van God se reddende genade geskei was. 

"Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word" 1 Petrus 1:3-4.

"Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word" Markus 16:16.

2. Vra vir God aan wie Hy wil hê jy vandag hoop "onder alle omstandighede" moet oordra. Wie om jou het iemand nodig om sommer net in hulle te glo en in wie hulle God se onvoorwaardelike liefde kan sien? 

3. Vra vir die Gees om jou te wys hoe jy vandag die boodskap van hoop met daardie persoon kan deel. Hoe kan jy God se hart van genade, liefde en vrede bekendmaak?

Gelowiges sowel as ongelowiges het hoop nodig. Almal het liefde van die mense om hulle nodig. Of jy die evangelie met iemand vir die eerste keer deel en of jy vir die eerste keer ‘n medegelowige ondersteun wat deur ‘n moeilike tyd gaan, die mense om jou het jou nodig. Wees soos Jesus 'n rolmodel vir die hoop wat God bied, en hou dop hoe lewens om jou verander. Mag jou dag gevul wees met versoening en dade wat God behaag namate jy die Heilige Gees toelaat om jou te gebruik. 

Verdere Leeswerk: 1 Petrus 1

Dag 26Dag 28

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/