40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

Die Grenslose Genade van God
Weeklikse Oorsig:
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring. God het ons geskep om Hom te sien, om sy karakter te ken en om toe te laat dat die waarheid van sy goedheid ons in 'n dieper verhouding met Hom sal lei. Augustinus het geskryf: "U het ons vir Uself geskep en ons harte sal rusteloos bly totdat dit in U rus gevind het." Deur God te sien vir wie Hy is, is ons harte dus van nature geroer om in sy goedheid rus te vind. Mag jou hart ook deur die openbaring van God se wonderlike karakter geroer word.
Skrifgedeelte: "Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God" Efesiërs 1:7.
Oordenking:
Genade is een van daardie verstommende en lewensherskeppende eienskappe van God se karakter. Van die begin van alle tye was dit God se keuse om ons milddadig met sy genade te oordek, eerder as met sy toorn. Ons het egter herhaaldelik ons rûe op Hom gekeer. Nogtans wys Hy herhaaldelik die diepte van sy begeerte na ons deur sy grenslose genade aan ons te skenk. In sy genade kan ons nie net 'n lewe sonder sy toorn lei nie, maar in die heerlikheid van 'n verhouding met ons Skepper, deur Jesus se verlossingswerk.
Ons lees in Efesiërs 1:7: "Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God." Kom ons ondersoek dan vandag 'n paar van hierdie idees sodat dit ons toegeneentheid tot God na vore kan bring. Laat God dan toe om deur sy Woord die terreine in jou hart te vul waar die genade van God nog nie die geleentheid gehad het om oorvloedig te wees nie.
Paulus sê dat ons "deur die bloed van [Jesus] verlos is." Het jy al genoeg tyd afgestaan om oor die aard van jou verlossing na te dink? Ons lees in Kolossense 1:19-22: "God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel." So geweldig is die genade van ons hemelse Vader dat Hy nie 'n enkele ding toelaat om tussen julle te staan nie. Jy wat voorheen ver van God af was, is nou in die familie van God ingebring deur Jesus se verlossingsbloed.
Jy is nie slegs eens en vir altyd verlos nie, maar jou sondes van die hede en toekoms is vergewe. Paulus skryf dat ons as gelowiges is: "verlos en ons oortredinge [is] vergewe kragtens die ryke genade van God." In watter terrein van jou lewe het jy vandag vergifnis nodig? Wat is daar wat jou van 'n openhartige verhouding met jou hemelse Vader skei? Wanneer jy jou sondes bely, bied God jou sy vergifnis vir enigiets wat jy gedoen het. "Kragtens die ryke genade van God", waarvan Jesus se kruisdood 'n volmaakte getuienis is en jy dus vergifnis gebied word. As God dus sy Seun gestuur het om vir jou te sterwe sodat sy verhouding met jou herstel kan word, kan jy beslis glo dat Hy ook enige oortreding sal vergewe wat nog vir jou 'n struikelblok is.
God tree nie soos die wêreld op nie. Hy laat jou nie die straf vir jou sondes betaal nie. Inteendeel, Hy bied jou volmaakte genade. In die een Bybelverhaal na die ander, keer God die wêreldstelsels onderstebo deur die begrip van genade. In die verhaal van die verlore seun plaas die vader die seun, wie se gedrag hom oneer aangedoen het, se regmatige straf ter syde en — hy hou 'n groot fees vir sy verlore seun wat hy teruggekry het. Hy het nie gewag nie. Hy het nie eers die seun vir sy oortredings laat boet nie. Hy het hom onmiddellik in genade vergewe. Vandag bied God dieselfde genade aan jou. Moenie probeer om vir jou eie sonde te betaal en daardeur die volheid van 'n verhouding met God mis te loop nie. Jesus het reeds die enigste prys wat nodig was met sy kruisdood betaal. Lewe nou in die lig van God se genade. Bied jou hart vrylik aan God. Laat Hom toe om verlossing te bring in elke terrein van jou lewe sodat jy ten volle die wonderlike verhouding met God kan ervaar wat vir jou beskikbaar is.
Begeleide Gebed:
1. Ruim nou tyd in om na te dink oor die ontsaglike genade van God.
"Hy het vryheid vir sy volk bewerk, sy verbond vir altyd ingestel. Sy Naam is heilig, dit wek ontsag!" Psalm 111:9.
2. Praat met God oor enige terrein in jou lewe waar jy voel jy deur jou sonde of gebrek aan begrip van Hom geskei is. In watter terrein van jou lewe voel jy nie sy genade nie? Wat in jou denke word deur veroordeling of negatiwiteit oorheers?
3. Vra vir God om in daardie terreine van jou lewe vir jou te vergewe en jou 'n begrip van sy genade te gee. Ontvang dan die vryheid wat sy teenwoordigheid en vergifnis vir jou gee.
God werk onvermoeid om jou in die volheid van 'n verhouding met Hom in te lei omdat Hy jou liefhet. Jy is sy kind. Hy weet alles van jou, want Hy het jou geskep en dis vir Hom aangenaam om tyd met jou deur te bring. Mag jou toegeneentheid tot Hom vandag na vore kom. Mag jy Hom ken en sy liefde in magtige en herskeppende maniere ervaar. Bring jou dag deur in die teenwoordigheid van God, veranderd en bemagtig deur die werklikheid van sy grenslose genade.
Verdere Leeswerk: Efesiërs 1
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More