40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 33 VAN 40

Aandete saam met jou Skepper

Weeklikse Oorsig:

Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring. God het ons geskep om Hom te sien, om sy karakter te ken en om toe te laat dat die waarheid van sy goedheid ons in 'n dieper verhouding met Hom sal lei. Augustinus het geskryf: "U het ons vir Uself geskep en ons harte sal rusteloos bly totdat dit in U rus gevind het." Deur God te sien vir wie Hy is, is ons harte dus van nature geroer om in sy goedheid rus te vind. Mag jou hart ook deur die openbaring van God se wonderlike karakter geroer word.

Skrifgedeelte: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My" Openbaring 3:20.

Oordenking: 

Daar word in Openbaring 3:20 wonderbaarlike insig geopenbaar oor die verhouding waarna God verlang om met ons te wees. Daarin sê Jesus: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My." Weet jy dat God met jou vriende wil wees? Net soos 'n vriend jou vir ete sou uitnooi, verlang God ook om tyd met jou deur te bring. God klop elke dag aan die deur van jou hart. As jy bereid is om jou hart vir Hom oop te maak en te luister, kan jy tyd saam met God deurbring op meer onbeperkte en bevredigende wyses as wat jy met enige ander vriend kan ervaar.

Is daar enige terrein in jou lewe waarin jy vandag die vriendskap van God nodig het? Johannes 15:15 sê: "Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het." Die evangelieverhaal gaan oor God wat sy verhouding met die kroon van sy skepping verloor, ek en jy, maar deur die dood van Jesus word hierdie verhouding met ons herstel. Hy werk reeds onvermoeid sedert die eerste sonde gepleeg is, om vir jou en my weer sy vriende te noem. Dit wat jy van jou vriende begeer is ten volle vir jou in God beskikbaar — en selfs in geweldig meer diepte!

Het jy 'n vriend nodig om mee te praat? God staan by die deur van jou hart waar Hy vra om in te kom. Luister — "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop ..." (Openbaring 3:20a). As jy raad nodig het, weet dat die Heilige Gees deur wie die Skrif geïnspireer is, wag om die wysheid van God aan jou te openbaar — "Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig" (Johannes 16:13). As jy wil lag, verlang God om aan jou ondeurgrondelike vreugde te bring — "Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos 'n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: 'Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.' Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly" (Psalm 126:1-3).

In God het jy 'n beste vriend. Hy is nooit afgetrokke nie. Wat vir die psalmis in Psalm 73:23-26 waar was, is ook vir ons waar: "Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd."

Staan vandag tyd af om in God se teenwoordigheid te wees. Luister hoe Hy aan die deur van jou hart klop; nooi Hom na binne om jou daar te ontmoet. Laat sy vriendskap toe om die gebroke terreine in jou hart met sy liefde te genees. Hy bied Homself vandag vrylik aan jou. Hy het tot ondenkbare uiterstes gegaan, bloot om tyd met jou deur te bring. Ontbloot jou hart voor Hom en laat sy glimlag toe om die vreugde van jou verlossing te herstel.

Begeleide Gebed:

1. Staan tyd af om God se verlange na vriendskap met jou te bepeins.

"Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het" Johannes 15:15.

2. Maak jou hart vir God oop om sy teenwoordigheid te ontvang. Ontvang die vrede en vreugde wat jy slegs in die teenwoordigheid van jou hemelse Vader kan beleef.

"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My" Openbaring 3:20.

3. Bring dan tyd deur om sommer net jou vriendskap met God te geniet. Gesels met Hom oor enigiets wat jy wil en ontvang sy vreugde oor jou. 

"Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd" Psalm 73:23-26.

Jy kan nie vriendskappe binne een dag bou nie, want dit ontwikkel oor leeftye. Jy het die hele ewigheid om God beter te leer ken. As jy gereeld tyd met God deurbring, sal Hy waarlik jou beste vriend word. Hy sal die een wees na wie jy jou haas met jou probleme. Hy sal die bron van jou vreugde, vrede en lewe wees. Jy het elke dag die keuse om met God of sonder God te lewe. Jy het ook 'n vyand wat hard werk om jou te oortuig om die laasgenoemde keuse te maak. Hoe meer gereeld jy tyd aan God wy, hoe makliker sal jou besluit word. As jy eers die goedheid en werklikheid van God leer ken het, is daar geen omdraai meer nie. Verlustig jou vandag in God. Wandel in die oorvloedige lewe van 'n herstelde verhouding met God. Maak die deur van jou hart oop wanneer Hy klop. Jy kan op geen beter wyse jou dae deurbring, of met geen beter vriend as met God nie.

Verdere Leeswerk: Johannes 15

Dag 32Dag 34

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/