40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
![40 Daily Devotionals for Lent](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F14435%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
God Beloof sy Krag
Weeklikse Oorsig:
In hierdie wêreld van ons wat deurlopend verander, is daar net een onveranderlike — die karakter van ons hemelse Vader. Die aarde self is deurgaans besig om verandering te ondergaan. Selfs dít wat nou as die standvastigste voorkom, sal eendag verdwyn. God is egter onveranderlik. God is onwankelbaar. Hy is volkome getrou en daaraan toegewy om die beloftes wat Hy aan jou gemaak het, na te kom. Mag jy jouself vestig in sy liefde wat nooit verander nie, terwyl ons hierdie week na God se beloftes kyk. Mag die karakter van God jou bron en jou skuiling wees — jou vaste, onwankelbare fondament.
Skrifgedeelte: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou" Jesaja 41:10.
Oordenking:
Ons Skeppergod het in sy oneindige wysheid en liefde gekies om die mensdom te skep, alhoewel Hy baie goed geweet het dat ons ons eie weë bo Sýne sou kies. Ons is geskep met 'n skrikwekkende vermoë om uit ons eie krag te wil leef. As gevolg hiervan sien ons beide in die Skrif en in ons eie lewens ongelooflike mislukkings — voorbeelde van ons gesamentlike swakheid wat hulle voor ons afspeel. Ons sien dit in die agteruitgang van die samelewing se moraliteit. Ons sien dit in die lewens van mense om ons wat blykbaar net nie rigting kan kry nie. Swakheid is blykbaar dwarsdeur die struktuur van ons wêreld verweef. Die wêreld dra swaar onder die juk van die swakheid van sy bewoners.
Die Bybel bevat egter ook ongelooflike verhale van die oorwinnings wat die volk van God behaal het. Die lys is ellelank: Moses en die Egiptenare, Dawid en Goliat, Simson en die Filistyne en die vroeë kerk wat die evangelie dwarsoor die wêreld versprei het, ten spyte van onoorkomelike teenstand. Saam met al die verhale van oorwinning, bevat die Skrif ook vele verhale van mislukking. Wat het die verskil gemaak? Wat onderskei die suksesverhale van dié wat misluk het? Die verskil lê daarin dat die volk van God hul krag uit God geput het. Sukses is nét behaal in die Skrif wanneer die krag van God deur die mens se swakheid sigbaar kon word.
Psalm 103:13-14 sê: “Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons stof is." God het ons geskep. Hy ken ons swakheid. Hy weet dat ons sonder Hom niks kan doen nie. Die wonder van die evangelie is egter dat ons, as gelowiges, nooit weer van Hom geskei sal wees nie. Deur die dood van Jesus is ons nou een met Christus, deel van sy verlossingsverhaal. Ons is daarvan gered om ons lewens op ons eie en deur ons eie krag te moet leef.
Vandag sê jou hemelse Vader vir jou: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou" (Jesaja 41:10). Jou God is dieselfde God as dié van Dawid, Simson, Paulus en Johannes. Die sukses wat hulle ervaar het, was die direkte uitvloeisel van die feit dat hulle die krag van God bo hul eie gekies het. Paulus skryf in 2 Korintiërs 12:9: “Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees." Paulus het gekies om oor sy swakheid te roem omdat Hy die standvastige krag van God in sy eie lewe ervaar het. Hy het geweet dat sy suksesse uitsluitlik die gevolg van die krag van sy God was.
Jou hemelse Vader beloof vandag sy krag aan jou. Net soos Hy vir Paulus gehelp het om die evangelie te versprei, net soos Hy vir Dawid gehelp het om die reus, Goliat, te verslaan, begeer Hy om vandag vir jou te help met wat ook al vir jou voorlê. Erken jou swakheid, maar hou terselfdertyd vas aan die ongelooflike krag van jou hemelse Vader. Deuteronomium 31:6b sê: “Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.” Die krag van God is altyd by jou. Al wat jou te doen staan, is om sý weë bo jou eie te kies. Leef in die kennis van jou eie swakheid en God se krag, en jy sal beleef dat die krag van die Skepper van die heelal ook direk in jóú lewe aan die werk is.
Waarin het jy die krag van God nodig? Watter area van jou lewe gaan gebukkend onder swakheid? Vra vir God om in jou lewe te werk en pluk vandag die vrugte daarvan om 'n medewerker van God te wees.
Begeleide Gebed:
1. Dink na oor jou eie swakheid. Watter situasies in jou lewe blyk sonder God se krag te wees?
“Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons stof is” Psalm 103:13-14.
2. Bepeins nou God se begeerte om sterk te wees in jou swakheid. Dink aan verhale van mense in die Bybel wat ongelooflike dinge vermag het bloot deur die krag van God.
“Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees" 2 Korintiërs 12:9.
3. Vra vir God om vandag sterk te wees in jou swakheid. Vra die Gees om jou te lei en om in elke en enige situasie te werk waarin jy jouself mag bevind. Vra Hom om jou woorde, dade, gedagtes en emosies te rig, sodat jy totaal in sý krag kan leef.
“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou" Jesaja 41:10.
Die hart van God is ongelooflik — dat Hy sou kies om sy eie krag met ons te deel! Jou God het jou so lief dat Hy begeer om nougeset en doeltreffend in jou lewe te werk. Die krag wat die berge gevorm het, die see oopgekloof het en wat elke lewende wese onderhou, is vandag vir jou beskikbaar. Rus in God se belofte dat Hy nie ver is nie. Jy het 'n sterk God wat jou liefhet en wat aan jou kant is. Ervaar vandag die vrede en mag van God se krag, wat sterk gemaak word deur jou swakheid.
Verdere Leeswerk: Psalm 103
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![40 Daily Devotionals for Lent](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F14435%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More