40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

God Beloof Vryheid
Weeklikse Oorsig:
In hierdie wêreld van ons wat deurlopend verander, is daar net een onveranderlike — die karakter van ons hemelse Vader. Die aarde self is deurgaans besig om verandering te ondergaan. Selfs dít wat nou as die standvastigste voorkom, sal eendag verdwyn. God is egter onveranderlik. God is onwankelbaar. Hy is volkome getrou en daaraan toegewy om die beloftes wat Hy aan jou gemaak het, na te kom. Mag jy jouself vestig in sy liefde wat nooit verander nie, terwyl ons hierdie week na God se beloftes kyk. Mag die karakter van God jou bron en jou skuiling wees — jou vaste, onwankelbare fondament.
Skrifgedeelte: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie” Galasiërs 5:1.
Oordenking:
Vryheid is iets wat ons vir die grootste gedeelte van ons lewens probeer najaag. Die bande van slawerny, ongeag watter vorm dit in ons wêreld aanneem, versmoor ons vermoë om die lewe te geniet en te floreer. As 'n kultuur is die merkwaardige gebeure soos die val van die Berlynse muur en die wêreldwye menseregtebeweging gevier omdat ons weet dat vryheid noodsaaklik is vir enige lewe om tot sy bestemde volheid geleef te kan word. Ons veg vir die vryheid van gevangenes. Ons bepleit die saak van diegene wat deur die bande van slawerny stilgemaak is. Die Bybel maak dit duidelik dat God geensins anders voel nie.
Vryheid is een van die meer deurlopende temas in die Skrif. Die bladsye is oortrek met verhale hoe God sy volk uit die bande van slawerny verlos het. Jesus het self vir Sadrag, Mesag en Abednego uit die brandende oond bevry. God het die bekke van die leeus gesluit om vir Daniël te bevry. God het ook die hele volk van Israel uit slawerny onder die Egiptenaars verlos deur 'n aanslag van plae te stuur. Die Bybel is duidelik daaroor dat God deurgaans aan die werk is om sy kinders van die juk van slawerny te verlos.
Die Bybel bevat nie net verhale van God se vrymaking van liggaamlike slawerny nie, maar ook van geestelike slawerny. Romeine 6:17-18 sê: "Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur oorlewering ontvang het. Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen." Later skryf Paulus ook in Romeine 8:1-4: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.” In Galasiërs 5:1 gaan Paulus verder: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.” Jesus sê in Johannes 8:36: “Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.”
Die Skrif stel dit dus duidelik dat ons as gelowiges vrygemaak is van die bande van die sonde deur Jesus Christus se sterwe en opstanding. Sonde heers nie meer oor ons nie. Die bande van sonde, wat jou verstrengel en van God geskei het, is deur die offerbloed van jou Verlosser finaal verbreek. Jy sien, deur die dood van Jesus het God aan jou sy belofte van vryheid gemaak. Hy het belowe dat jy nie meer jou lewe as 'n slaaf van sonde hoef te leef nie. Jy het nou 'n lewe vol van die vreugde en mag van geregtigheid tot jou beskikking.
God het aan jou sy vryheid belowe. Al wat jy nou hoef te doen, is om jou lewe te leef in die lig van dít wat Hy reeds vir jou gedoen het. Verbreek alle bande met jou vorige lewe. Soos Paulus in Efesiërs 4:22-24 geskryf het: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” Beklee jouself elke dag met die kennis van wie jy in Christus is. Besluit om in vryheid in plaas van sonde te leef. Wanneer jy voel dat jy teruggetrek word na jou ou gewoontes, ruim dan 'n minuut in en vra die Gees om jou weg te lei van jou vorige lewe. God het aan jou sy vryheid beloof. Hy het sy wonderwerk van vryheid in jou waargemaak toe jy gered is. Jy is nuut gemaak. Leef nou in antwoord op God se ontsaglike werk deur 'n lewe van geregtigheid na te streef. Bestee tyd in God se teenwoordigheid en laat sy waarheid en liefde toe om jou te verander en te herskep sodat jy soos die Een kan lyk wat jou gered het.
Begeleide Gebed:
1. Bepeins God se belofte om jou van sonde te bevry.
“Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei” Romeine 6:4.
2. Dink na oor areas in jou eie lewe waarin jy God se belofte van vryheid wil ervaar. Waar voel jy dat jy aan die wêreld vasgeketting is? Watter sonde het 'n houvas op jou?
3. Vernuwe jou gedagtes met die waarheid wat die Woord van God oor daardie area in jou lewe sê. Verklaar die vryheid in jou lewe waarvoor Christus betaal het. Bestee tyd daaraan om regtig te dink aan die mag wat God oor jou sonde het. Verklaar oorlog teen die vyand en gebruik God se waarheid as jou wapen.
“Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie” Galasiërs 5:1.
“Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees” Johannes 8:36.
“Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur oorlewering ontvang het. Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen” Romeine 6:17-18.
Volg vandag die leiding van die Heilige Gees wanneer Hy jou van sonde weglei. Die vyand is vasbeslote om jou terug te trek na die sonde wat jou vasgehou het, maar: “... Hy wat in julle is, [is] groter as die duiwel, wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4b). Die oorwinning is alreeds joune. Jesus het jou vryheid gekoop. Die stryd gaan nou om jou denke. Behou oorwinning in daardie area deur die krag van die Woord van God, en die sonde wat al so 'n gewoonte geword het, sal nie meer 'n greep op jou hê nie.
Verdere Leeswerk: Romeine 6–8. (Om 'n goeie begrip van hierdie Skrifgedeelte te kry, moet al drie hoofstukke saam in een sessie gelees word.)
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More