40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

God Beloof sy Wil
Weeklikse Oorsig:
In hierdie wêreld van ons wat deurlopend verander, is daar net een onveranderlike — die karakter van ons hemelse Vader. Die aarde self is deurgaans besig om verandering te ondergaan. Selfs dít wat nou as die standvastigste voorkom, sal eendag verdwyn. God is egter onveranderlik. God is onwankelbaar. Hy is volkome getrou en daaraan toegewy om die beloftes wat Hy aan jou gemaak het, na te kom. Mag jy jouself vestig in sy liefde wat nooit verander nie, terwyl ons hierdie week na God se beloftes kyk. Mag die karakter van God jou bron en jou skuiling wees — jou vaste, onwankelbare fondament.
Skrifgedeelte: “Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” Efesiërs 1:9-10.
Oordenking:
In Jesus se lewe, het God nie net aan ons sy nabyheid geopenbaar nie, maar ook sy begeerte om sáám met ons te werk aan sy plan van verlossing vir alle volke, alle geslagte en die ganse skepping. Die begeerte van God om met ons hande te vat in hierdie taak op aarde, bevat 'n ongelooflike belofte aan sy volgelinge: God beloof om die geheimenis van sy wil met ons te deel. In Efesiërs 1:7-12 sien ons 'n pragtige voorbeeld hoe God sy wil met sy mense deel:
"Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys."
Paulus vertel vir ons dat God, deur die dood van Jesus, die geheimenis van sy wil aan sy volgelinge bekend gemaak het. Jesus se dood verkondig aan ons God se wonderlike plan om alles óm ons met Homself te versoen. God se plan, wat deur al die eeue in werking was, is deur Jesus se dade tot uitvoering gebring. Die Skrif beskryf egter nie net 'n enkele keer wat God die geheimenis van sy wil bekend gemaak het nie. Die Bybel maak dit duidelik dat God begeer dat sy mense voortdúrend sy wil sal ken.
Romeine 12:1-2 sê: “En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." Deur jou denke te vernuwe volgens die waarheid van God, plaas jy jouself in die posisie om deurgaans te kan onderskei wat “goed en aanneemlik en volmaak” binne die wil van God is. Hoe asemrowend! God wil nie net hê dat jy sy wil moet ken nie, maar Hy gee jou selfs 'n verstommende manier waarop jy dit kan doen — deur die vernuwing van jou denke.
Staan vandag tyd daaraan af om sy wil te soek deur die Skrif te lees, te luister na die Heilige Gees en mense te raadpleeg wat in voeling met God se hart is. Laat Hom toe om sy wil aan jou te openbaar op enige manier wat Hy goeddink. Bestee tyd in sy teenwoordigheid, sodat Hy die begeertes van sy hart aan jou kan openbaar. Bring jouself in pas met sy oneindige trou terwyl Hy vandag met jou praat en jou lei. Mag jy ook onderskei wat die “goeie en aanneemlike en volmaakte" wil van God is wanneer jy vandag tyd in begeleide gebed deurbring.
Begeleide Gebed:
1. Bepeins God se begeerte om die geheimenis van sy wil met jou te deel.
“Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” Efesiërs 1:9-10.
2. Waar in jou lewe het jy God se leiding nodig? Waarmee het jy rigting nodig?
3. Vra vir God om jou mee te deel wat sy wil is. Luister nou hoe Hy jou lei. Gee aandag aan enige Skrifgedeeltes wat by jou opkom. Vertrou dat God praat en dat Hy wil hê dat jy sal weet wat sy wil is.
“En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” Romeine 12:1-2.
God wil gedurende die dag heeltyd met jou praat en 'n invloed hê op die besluite wat jy neem. Jou hemelse Vader het jou lief. Aangesien Hy 'n goeie Vader is, wil Hy graag met jou deel wat die beste vir jou gaan wees, en Hy sal dit ook op die beste manier moontlik doen. Vertrou en luister vandag — en leef jou lewe in reaksie op die lewegewende kennis van die wil van God.
Verdere Leeswerk: Romeine 12
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More