40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

Die Getrouheid van God
Weeklikse Oorsig:
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring. God het ons geskep om Hom te sien, om sy karakter te ken en om toe te laat dat die waarheid van sy goedheid ons in 'n dieper verhouding met Hom sal lei. Augustinus het geskryf: "U het ons vir Uself geskep en ons harte sal rusteloos bly totdat dit in U rus gevind het." Deur God te sien vir wie Hy is, is ons harte dus van nature geroer om in sy goedheid rus te vind. Mag jou hart ook deur die openbaring van God se wonderlike karakter geroer word.
Skrifgedeelte: "God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?" Numeri 23:19.
Oordenking:
Daar word in Numeri 23:19 'n fundamentele faset van God se karakter beskryf, naamlik sy getrouheid. Die Skrif sê: God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?" As gelowiges, het ons 'n openbaring van God se getrouheid nodig. Om God ten volle te vertrou, is die begin daarvan om 'n oorvloedige lewe te lei. As jy nie ten volle glo dat God getrou is en jou sal lei dat jy die beste moontlike lewe kan lei nie, sal jy nie na sy wil soek, Hom met jou besittings vertrou of sy teenwoordigheid ten volle geniet nie.
Die Skrif belowe in Numeri 23:19 dat God volmaak getrou, standvastig en waar is. Filippense 1:6 gaan voort: "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom." Romeine 8:28 gee dan die belofte: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." Jou God is algeheel getrou aan jou. Hy sal altyd daar wees vir jou, ongeag wat jy doen. Al wat Hy vra is 'n gewillige hart om die wonderbaarlike vrug van die Gees in jou lewe te kan bring.
Die doel is nie dat jy sonder die kennis van God se getrouheid sal lewe nie. Jy is nie veronderstel om onder die gewig gebuk te gaan om op jouself te steun vir jou lewe nie. Mense sal jou teleurstel, maar jou God sal nooit nie. Dalk is jou gesin of vriende nie altyd beskikbaar wanneer jy hulle nodig het nie, maar jou God is altyd daar vir jou.
Wanneer voel jy alleen? In watter omstandighede het jy 'n vars openbaring van God se getrouheid nodig? Hy belowe om aan jou getrou te bly. Hy belowe om jou by te staan in enige omstandigheid waarin jy jouself mag bevind. Ons lees in Jesaja 54:10: "Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet." Getrouheid vorm die grondslag van God se karakter. God se standvastige liefde vir jou is sekerder as die grond waarop jy loop.
Reageer dan vandag op God se getrouheid. Laat sy beloftes toe om bestendigheid te bring in daardie terreine van jou lewe wat onseker voel. Wanneer jy vandag buitentoe gaan, moet jy tyd daaraan wy om na die wêreld om jou te kyk. Dink aan die dinge waarin jy jou vertroue geplaas het. Onthou, God belowe dat sy getrouheid alles sal oorleef wat jou oë kan sien. Mag jou toegeneentheid tot Hom vandag na vore kom. Mag jy op sy getrouheid met joune reageer. Mag jy die liefde en vreugde ervaar van 'n Vader wat jou volmaak en volkome liefhet.
Begeleide Gebed:
1. Dink na oor God se belofte om aan jou getrou te wees.
"God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?" Numeri 23:19.
"Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou" 1 Tessalonisense 5:23-24.
"Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het" Hebreërs 10:23.
2. Dink nou na oor jou eie lewe. Is daar 'n terrein in jou lewe waaroor jy onseker voel? In watter omstandighede is jou emosies soos 'n boot in 'n storm wat heen en weer geslinger word? Het jy vandag êrens 'n sterker fondament nodig?
3. Vra die Gees om in daardie terreine vir jou 'n openbaring van God se getrouheid te gee. Vra vir God om jou te help dat jy in sy getrouheid sal vertrou. Vra Hom ook hoe Hy beplan om vrede in die terreine van jou lewe te bring wat vandag gekwel is. Luister wanneer Hy met jou praat.
God belowe jou nie net sy getrouheid nie, maar Hy sal aan jou openbaar hoe Hy in jou lewe werk. As jy Hom uitvra oor sy planne sal Hy jou dit wys! Jy kan Hom vra hoe Hy oor jou en jou lewe voel — en Hy sal jou antwoord! Sy belofte van getrouheid sluit ook sy belofte in dat jy sy stem sal hoor. As jy jou hart oopmaak, sal jy Hom vandag hoor praat; luister na die Gees en wees gereed om God te hoor praat deur die kanaal wat Hy verkies. Jou hemelse Vader het jou lief. Bring jou dag deur om die fondament van sy getrouheid in jou eie lewe te vestig. Ervaar dan 'n lewe wat met God se oorvloedige versekering en vrede gevul is.
Verdere Leeswerk: Jesaja 54
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More