40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 40 VAN 40

God Beloof sy Terugkeer

Weeklikse Oorsig:

In hierdie wêreld van ons wat deurlopend verander, is daar net een onveranderlike — die karakter van ons hemelse Vader. Die aarde self is deurgaans besig om verandering te ondergaan. Selfs dít wat nou as die standvastigste voorkom, sal eendag verdwyn. God is egter onveranderlik. God is onwankelbaar. Hy is volkome getrou en daaraan toegewy om die beloftes wat Hy aan jou gemaak het, na te kom. Mag jy jouself vestig in sy liefde wat nooit verander nie, terwyl ons hierdie week na God se beloftes kyk. Mag die karakter van God jou bron en jou skuiling wees — jou vaste, onwankelbare fondament.

Skrifgedeelte: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” Johannes 14:2-3.

Oordenking: 

Die wederkoms van Christus sal met weergalmende finaliteit die einde van die huidige era aandui. 1 Tessalonisense 4:16a sê: “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aardsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal.” Jesus belowe dat Hy vir jou en my sal terugkeer. Hy kom terug om sy heerskappy aan die hele aarde bekend te maak. Met sy terugkoms sal Hy einde ten laaste die afbrekende werke van die vyand vernietig. Hy sal die aarde vrymaak van al die skade wat sonde veroorsaak het en die uiteindelike hereniging van alle dinge met Homself bewerkstellig.

Jesus se wederkoms sal vol magsvertoon en triomfantlik wees. Dit sal 'n tyd van droefheid wees vir diegene wat nie in Hom geglo het nie en vir ons, sy Bruid, 'n tyd van gejubel. Jesus kom terug in al sy glansrykheid, gevul met liefde en verlangend na dié wat deur geloof in sy kudde ingesluit is. Jy sien, Hy kom terug vir jou omdat Hy jou liefhet. Hy verlang na die dag wanneer jy saam met Hom kan wees, van aangesig tot aangesig, sonder enigiets wat jou verhinder. Hy is oorstelp van vreugde dat Hy nóú in 'n verhouding met jou is, maar, net soos jy, verlang Hy na iets meer. Soos 'n bruidegom geduldig wag vir die huwelikseremonie, so is Hy in afwagting vir dít wat voorlê.

Dit is liefde wat ons bron van hoop is. Dit is sy begeerte dat ons uiteindelik voor Hom herstel sal word. Dit behoort aan ons oneindige vreugde hier op aarde te verskaf. Dít wat jy tot dusver van die lewe geken het, is nie al wat daar is nie. Wat jy al van God ervaar het, is net 'n druppel in die massiewe see van sy liefdevolle deernis. Jesus sê in Johannes 14:2-3: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie." Hy smag daarna om jou te hê waar Hy nou is. As jy 'n gelowige is, het Hy reeds aan jou 'n plek in sy koninkryk belowe. Jy kan hier in die hoop leef dat al die swaarkry, uitdagings, versoekings en hartseer wat jy op aarde beleef, met sy wederkoms soos mis voor die son sal verdwyn. Ingesluit in hierdie belofte van sy terugkeer, is sy belofte van 'n lewe vry van al die verwoesting wat sonde veroorsaak het.

Ons is bestem vir 'n verhouding met ons Verlosser — hier, sowél as in die era wat kom. Deur sy sterwe en opstanding het Hy dit vir ons moontlik gemaak om Hom nou en vir ewig te ervaar. Jy behoort jou grootste vreugde uit hierdie waarheid te put. Jou hoogste roeping behoort uit sy belofte van 'n verhouding gebore te word. Die ewigheid sélf hang af van sy belofte om terug te keer. Hy wat sy lewe vir jou opgeoffer het, sál terugkeer om jou na die Vader te lei. Bestee vandag tyd in sy teenwoordigheid. Beleef dieselfde God wat in al sy heerlikheid sal terugkom. Leef vandag in die lig van sy belofte en beleef die liefde en hoop van jou God, wat getrou is en al sy beloftes aan jou sal vervul.

Begeleide Gebed:

1. Bepeins die kragtige, hoop-gevulde waarheid van Christus se wederkoms.

“In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” Johannes 14:2-3.

2. Waar het jy vandag hoop nodig? Waar moet die waarheid van Jesus se terugkoms jou emosies hervorm?

3. Laat die waarheid van Jesus se terugkeer in jou hart insink. Laat toe dat dit enige dele van jou hart genees wat nou sonder hoop is.

“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” Hebreërs 10:23.

Om uit te sien na die dag van uiteindelike herstel, behoort aan jou brandstof te gee om in die lig van die ewigheid te leef. Hierdie aardse lewe is maar 'n wasempie in die bestek van jou ewige lewe. Dit is 'n stofkorreltjie in die wind. Dit beteken nie dat vandag nie saak maak nie. Wat dit wél beteken, is dat jy weet wat die uiteinde van jou lewe sal wees. Jy weet hoe die verhaal eindig. Mag die glansryke, triomfantlike einde van jou verhaal vandag standvastigheid en hoop in jou hart bring.

Verdere Leeswerk: Johannes 14


As jy bemoedig is deur hierdie 40-dag leesplan gedurende Lydenstyd, lees gerus verder of luister na ons daaglikse oordenkings by http://first15.org

Dag 39

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/