40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Die Wysheid van God
Weeklikse Oorsig:
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring. God het ons geskep om Hom te sien, om sy karakter te ken en om toe te laat dat die waarheid van sy goedheid ons in 'n dieper verhouding met Hom sal lei. Augustinus het geskryf: "U het ons vir Uself geskep en ons harte sal rusteloos bly totdat dit in U rus gevind het." Deur God te sien vir wie Hy is, is ons harte dus van nature geroer om in sy goedheid rus te vind. Mag jou hart ook deur die openbaring van God se wonderlike karakter geroer word.
Skrifgedeelte: "As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt" Jakobus 1:5.
Oordenking:
Die wysheid van jou hemelse Vader is volmaak. Alles wat Hy doen is volmaak. Weet jy, jy het ook deur die Heilige Gees toegang tot daardie wysheid. Jakobus 1:5 (DB) verduidelik: "As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee." Jou God het jou dus so oneindig lief dat Hy nie kan wag om sy ontsaglike wysheid aan jou te gee nie. Hy wil nie hê dat jy ooit moet ly weens 'n gebrek aan kennis nie. Ons hoor so dikwels dat God slegs die absolute noodsaaklike vir die oomblik aan ons openbaar, voordat ons alles moet weet. Volgens die Skrif is dit egter nie die waarheid nie. Jakobus 1:5 (DB) bewys dit. God sê oor sy wysheid "Gaan vra; Hy sal gee!"
God gee nie net graag en sonder voorbehoud sy wysheid wanneer jy vra nie, maar dit het ook aangrypende eienskappe. Ons lees in Jakobus 3:17: "Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg." Die wysheid wat van God kom, kan dus verstommende dinge vir jou lewe beteken. Dit word ook vergesel met God se volle geaardheid. Daar kon dus ewe goed in Jakobus 3:17 gestaan het dat God "sonder bybedoelings, en verder vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg" is. Wanneer die wysheid van God dus aan ons verleen word, ontvang ons baie van die eienskappe van God self ook.
Daar is geen ander denkwyse soos die wysheid van God nie. Ons lees in 1 Korintiërs 3:18-20: "Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe: 'Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne' en op 'n ander plek: 'Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks.'” Verder leer Jesus ons ook in Matteus 10:39: "Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind." Die weg waarheen Hy jou lei is uit die spanning wat ongetwyfeld deur die wêreld se ambisie en sukses veroorsaak word. Hy lei jou na 'n lewe van oorvloedige vrede. Indien jy van die wêreld se wysheid ter wille van Syne afsien, sal daar sonder twyfel diegene wees vir wie jy as dwaas voorkom. Jy het egter 'n weg gevind wat vry van hierdie wêreld se laste is. Die wysheid van God lei jou na 'n lewe wat waarlik in Christus geborge is, verlore in die see van sy liefde en genade.
Vra vandag vir God om sy wysheid. Lees die Woord onder leiding van die Gees. God wag geduldig om alles aan jou te openbaar wat jy begeer om te weet. Spreuke 25:2 sê: "Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring." Vra vandag vir God om wysheid en leef die oorvloedige lewe wat God vir jou beplan het.
Begeleide Gebed:
1. Bepeins die aangrypende eienskappe van die wysheid van God. Laat hierdie bepeinsing toe om by jou 'n begeerte te wek om soos God te dink.
"Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg" Jakobus 3:17.
2. In watter terrein van jou lewe het jy die wysheid van God nodig? Dalk wil jy weet hoe om na jouself te kyk. Miskien is daar 'n omstandigheid waarin jy waarlik leiding nodig het. Dink aan die terreine in jou lewe waarmee jy die hulp van God nodig het.
3. Vra God vir sy wysheid. Vertrou op jou beurt op sy belofte dat Hy wysheid sonder voorbehoud gee; ontvang en pas dan enigiets toe wat Hy vir jou wys.
"As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt" Jakobus 1:5.
Indien jy nie die keuse maak om God se denkwyse bo dié van die wêreld toe te pas nie, sal die wysheid van God nie veel vir jou beteken nie. As jy voortdurend die guns van mense en wêreldse sukses najaag in die lig van wat jy oor die waarheid van God weet, sal jy voortgaan om die gevolge van 'n dwase lewenswyse te ondervind. Die Woord van God moet toegepas word om vrug te dra. Jy moet kies om in die lig van jou posisie in Christus te leef om allesoortreffende vrede die standaard van jou lewe te maak. God gee wysheid vrylik en sonder voorbehoud wanneer jy daarvoor vra. Die vraag wat vandag aan jou gestel word, is eenvoudig of jy gaan besluit om God te vertrou en dit toe te pas of nie.
Verdere Leeswerk: 1 Korintiërs 3
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More