40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

Om 'n Kind van God te Wees
Weeklikse Oorsig:
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring. God het ons geskep om Hom te sien, om sy karakter te ken en om toe te laat dat die waarheid van sy goedheid ons in 'n dieper verhouding met Hom sal lei. Augustinus het geskryf: "U het ons vir Uself geskep en ons harte sal rusteloos bly totdat dit in U rus gevind het." Deur God te sien vir wie Hy is, is ons harte dus van nature geroer om in sy goedheid rus te vind. Mag jou hart ook deur die openbaring van God se wonderlike karakter geroer word.
Skrifgedeelte: "En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: 'Abba!' Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak"Galasiërs 4:6-7.
Oordenking:
Jy is God se kind en het deel van sy familie geword deur die krag en genade van Jesus se offer vir jou. Ons hoor, as gelowiges, dat ons God se kinders is. Ongelukkig leef ons nie altyd volgens daardie waarheid nie, maar ons leef volgens die ingesteldheid van 'n weeskind. As kinders 'n goeie pa het, is hulle oor niks bekommerd nie. Hulle wonder nie of daar kos is om te eet, of hulle geliefd is, of daar vir hulle 'n plek in die wêreld is nie. Die onvoorwaardelike liefde van 'n ouer lê daardie fondament sodat hulle geborge vrede en vreugde kan hê. God begeer dieselfde vir jou. Hy wil vir jou 'n onwankelbare fondament lê wat alleen op sy liefde vir jou as sy kind gevestig is, sodat jy in jou identiteit sterk kan bly wanneer die storms losbars en golwe oor jou breek.
Kom ons kyk eerstens wat die Skrif van jou sê en dan wy ons tyd daaraan om in geloof op die Woord van God te reageer. Johannes 1:12-13 sê: "Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore." Galasiërs 4:6-7 sê: "En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: 'Abba!' Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak." Laastens sê 2 Korintiërs 6:18: "'en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,' sê die Here, die Almagtige." Wanneer jy dus in God se familie aangeneem word, is jy saam met Christus 'n mede-erfgenaam. Romeine 8:17 sê dat ons God se kinders is "en omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus." Jy is in die familie van God weergebore toe jy vir Jesus gevra het om jou Heer en Verlosser te wees.
Wat beteken dit dus om 'n kind van God te wees? Wat beteken dit om 'n mede-erfgenaam saam met Christus te wees? Dit beteken dat alles wat aan God behoort, ook aan jou behoort. Hy deel sy koninkryk met jou. Jy het 'n Vader wat verstommende geskenke gee. Jy het 'n Vader wat ontsettend graag tyd met jou wil deurbring. Die liefde van jou hemelse Pa ken geen grense nie. Sy liefde is alomteenwoordig, kragtig en is gratis aan ons gegee. Jy hoef nie langer te wonder of jy 'n plek in hierdie wêreld het nie. Jy hoef jou glad nie te bekommer of jy klere en kos sal hê nie. Jy hoef nie langer die menings van diegene om jou na te streef nie. God put genot uit jou. Hy het 'n lewensplan vir jou. Dis nie vir Hom iets ligtelik om jou Vader te wees nie. Hy neem volle verantwoordelikheid vir jou. Hy sal jou versterk, jou onderrig, ontwikkel en aan jou 'n lewe van passie en betekenis gee. Om 'n kind van God te wees, beteken om geliefd te wees, dat vir jou omgegee word en jy ten volle versorg word.
Hoe kan jy dus in reaksie op die Woord van God lewe? Hoe kan jy die ingesteldheid van 'n weeskind afskud? Jy moet vas glo dat God is wie Hy sê dat Hy is en sal doen wat Hy belowe het. Romeine 10:17 (AFR53) sê: "Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God." Jy het vandag die Woord van die Here gehoor. Jy is sy kind. Hy belowe om vir jou te voorsien, daarom moet jy geloof hê. Geloof is nie iets wat jy sommer net optower nie. Dit is 'n reaksie op God se getrouheid. God was en sal altyd aan jou getrou bly. Laat sy Woord toe om vandag geloof in jou na vore te bring. Lewe nou in reaksie op sy beloftes en laat die vrede en vreugde om 'n kind van God te wees, vandag vir jou 'n onwrikbare fondament lê.
Begeleide Gebed:
1. Dink na oor die waarheid van die Woord van God. Jy is sy kind. Laat toe dat dié wete diep in jou hart insink.
"En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: 'Abba!' Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak" Galasiërs 4:6-7.
2. Vra die Gees nou om enige ingesteldhede wat jy mag hê, wat nie in ooreenstemming met sy Woord is nie, aan jou uit te wys. In watter lewensterreine voel jy gespanne? Wat laat jou voel jy is nie opgewasse nie? In watter terrein voel jy nie geliefd of dat nie vir jou omgegee word nie?
3. Vra nou dat God aan daardie plekke aandag sal skenk. Wat beteken dit vir jou om sy kind te wees? Wat in jou lewe moet verander word? Raak van daardie ingesteldhede ontslae en bring jou denkwyse in ooreenstemming met dié van God.
"'en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,' sê die Here, die Almagtige" 2 Korintiërs 6:18.
God se liefde vir jou is onwankelbaar. Daar is niks wat jy ooit kan doen om jouself uit sy familie te verwyder nie. Wanneer jy eers sy kind is, behoort jy vir ewig aan Hom. As 'n Christen lewe jy dus onder die genade van God, nie van werke afhanklik nie. God het jou lief omdat Hy jou oneindig liefhet — nie oor wat jy van jouself dink of wat jy doen nie. Daarom kan jy enige gedagtes oor jouself, wat nie in pas met die Woord van God is nie, laat vaar. In die lig van sy liefde, kan jy alle laste laat vaar wat jy vandag dra. Ervaar dan die herskeppende krag van 'n lewe wat gelei word in reaksie op God se getrouheid.
Verdere Leeswerk: Galasiërs 4
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More