40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
God Verruil ons Laste vir sy Vrede
Weeklikse Oorsig:
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring. God het ons geskep om Hom te sien, om sy karakter te ken en om toe te laat dat die waarheid van sy goedheid ons in 'n dieper verhouding met Hom sal lei. Augustinus het geskryf: "U het ons vir Uself geskep en ons harte sal rusteloos bly totdat dit in U rus gevind het." Deur God te sien vir wie Hy is, is ons harte dus van nature geroer om in sy goedheid rus te vind. Mag jou hart ook deur die openbaring van God se wonderlike karakter geroer word.
Skrifgedeelte: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” Matteus 11:28-30.
Oordenking:
Die Skrif beskryf 'n wonderlike uitruiling van ons laste vir die vrede van God. In Matteus 11:28-30, sê Jesus: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Jou God het jou so oneindig lief dat Hy aanbied om die laste van jou skouers af te haal en op sy skouers te sit én in ruil daarvoor sy vrede vir jou te gee. Waar in jou lewe dra jy swaar? Waar voel jy toegegooi onder die wêreld se laste? God bied vandag vir jou sy vrede as jy bereid is om tyd daaraan te wy om jouself in ooreenstemming met Hom te bring en die "juk" van Jesus se onderrig op te neem.
In Matteus 11 gebruik Jesus die voorbeeld van twee diere wat die las van hul werk deel. Wat Jesus dus hier illustreer is dat ons onsself aan sy onderrig moet onderwerp. Hy vra van ons: "Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed." Hy vra ons nie net om ons laste vir Hom te gee nie, maar om ons in nederigheid aan sy onderrig te onderwerp. As ons bereid is om Hom as ons Onderwyser te aanvaar, sal ons nie langer self die las hoef te dra om op ons eie ons lewens te probeer verstaan nie. Ons het dus die vryheid om ons lewens onder die krag en invloed van die Heilige Gees te lei.
Voel jy ooit eensaam in wat jy doen? Voel dit ooit vir jou of vrede 'n onbereikbare doel is omdat dit verberg word deur lae werk waardeur jy eers moet ploeg? God se plan is egter anders as die wêreld s'n. Volgens die wêreld kan jy eers vrede hê wanneer jy jou werk voltooi het, wanneer jy die beste is of die goedkeuring van ander gekry het. Daarteenoor sê God jy moet nie langer in jou eie kragte werk nie, maar jouself aan sy onderrig onderwerp en van die wêreld se spanning en druk ontslae raak. In 1 Petrus 5:7 staan: "Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle." Jy het 'n God wat oneindig baie vir jou omgee. Hy is by jou. Hy is bewus van die samelewing se druk om oor sekere dinge om te gee, maar Hy bied jou eerder die toevlug van sy vrede.
Jy dien 'n God wat nie wil hê dat sorge jou selfs een dag moet oorlaai nie. Jy kan elke dag met die keuse opstaan om die juk van jou hemelse Vader en sy Woord op te neem. Spreuke 3:5-6 sê: "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop." Bring jou denke in ooreenstemming met wat Hy van jou sê — werp elke mening van ander van jou af weg. Bring jou dag in pas met die leiding van die Gees van God en ontvang die salwing en krag wat Hy so graag in elke omstandigheid wil bring.
God sê vir jou: "My juk is sag en my las is lig." As jy vandag die weg van God kies, bo hoe jy dinge in die verlede gedoen het en kies om sy Woord te gehoorsaam, dan "sal [julle] rus kry vir julle gemoed". In watter terrein van jou lewe het jy vandag rus nodig? Waar in jou hart het jy die vrede van God en sy verkwikking nodig? Hy wag op hierdie oomblik om jou te ontmoet en aan jou sy juk te bied. Gee jou laste, vrese en spanning vir Hom. Ons brose liggame is nie geskep om sulke druk te hanteer nie. Plaas jouself vandag onder die onderrig van God, bring jou denkwyse in ooreenstemming met Syne en laat vaar die wêreld se laste terwyl jy in die lig van Jesus se onderrig lewe.
Begeleide Gebed:
1. Dink vir 'n paar minute na oor jou lewe. In watter terrein van jou lewe het jy vandag die vrede van God nodig? Dalk is dit in jou ingesteldheid, jou voorkoms, vriende, gesin, by jou werk of enigiets wat jou oorlaai laat voel.
2. Bied nou daardie terrein van jou lewe aan God en vra Hom wat sy mening is. Luister na God en nooi Hom om jou te vertel wat Hy van jou dink. Soek dan verse op wat sy onderrig oor die onderwerp openbaar.
3. Bepeins die Skrif of wat God sê oor die terrein in jou lewe waar jy vrede nodig het. Laat sy vrede toe om oor daardie terrein in jou lewe te spoel. Onderwerp jouself aan sy Woord. Glo dat Hy alles in waarheid sien. Wat God ook al sê, is reg.
"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig" Matteus 11:28-30.
Plaas jouself vandag onder die juk van Jesus se onderrig. Maak sy Woord jou toevlug in 'n wêreld met soveel verskillende menings. Die beste weg om te volg, is om onder God se juk te lewe en aan sy Woord gehoorsaam te wees sodat jy 'n oorvloedige lewe kan hê. Daar sal elke dag aanslae in jou rigting kom. God verskaf egter elke dag aan jou die waarheid in sy Woord waarmee jy die aanvalle kan afweer. Kies vandag die Woord van Jesus, wandel in gehoorsaamheid daarin en ervaar God se "rus vir julle gemoed".
Verdere Leeswerk: Matteus 11
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More