40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 25 VAN 40

Liefde Bemoedig

Weeklikse Oorsig:

In Jakobus 2:26 lees ons dat "… die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood [is]." Om die lewensvolheid te ervaar wat deur geloof aan ons geskenk word, moet ons daders van die Woord word. Ons moenie net Sondae ons liefde voor God bely en dan Maandag lewe asof God nie teenwoordig is, bestaan of goed is nie. Mag jou geloof hierdie week lewend word namate jy daarna streef om te doen wat die Woord sê. 

Skrifgedeelte: "Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom" Hebreërs 10:23-25.

Oordenking:

Wanneer laas het iemand jou werklik bemoedig? Miskien was dit ‘n familielid of ‘n vriend. Hoe het dit jou laat voel? Hoe het jy na die tyd oor jouself gevoel? As jy die afgelope ruk nie bemoedig is nie, hoe groot is jou begeerte daarna? 

Bemoediging het ‘n kragtige uitwerking! Dit het die potensiaal om emosies te beïnvloed en koersverandering teweeg te bring. Dit het die potensiaal om iemand moed en vrymoedigheid te gee om God se planne te kies en God se hart bly te maak. Bemoediging is werklik ‘n gawe wat ons ontvang het om mekaar geestelik op te bou. Ons is bestem om mekaar te bemoedig. Die Bybel stel dit baie duidelik dat ons as broers en susters in Christus bestem is om te bemoedig en bemoedig te word. In Hebreërs 10:23-25 leer ons die volgende: "Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom."

Het jy al ooit daaraan gedink hoe jy met ‘n paar vriendelike woorde die dag van ‘n volslae vreemdeling kan verander? Jesus het die krag van bemoediging geken. Jesus het graag bemoediging as strategie gebruik in die begeleiding van sy dissipels om die lewe te ontsluit wat God vir hulle beoog het. Vir die mense wat Jesus se pad gekruis het, was sy woorde opbouend. Hy het verstotenes, bedroefdes en behoeftiges bemoedig. Die storie van Saggeus is ‘n perfekte voorbeeld om die krag van bemoediging te illustreer. In Lukas 19:1-10 lees ons die volgende:

"Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: 'Saggeus, kom gou af, want ek moet vandag in jou huis tuis gaan.' Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: 'Hy gaan by ‘n sondige man tuis!' Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: 'Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.' Daarop sê Jesus: 'Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.'"

Jesus het ‘n verstote belastinggaarder bemoedig en sy lewenskoers verander. Slegs deur Jesus se doodgewone afspraak om tyd saam met Saggeus deur te bring en in die nakom van die afspraak, het ‘n hele dorp seën ervaar. Saggeus het sy inkomste verdien deur sy eie mense [die Jode] tot voordeel van Rome en homself buitensporig te belas. Hy is deur die samelewing verstoot en almal om hom het hom gehaat. Tot almal se ontsteltenis, het Jesus vir Saggeus bemoedig, tyd saam met hom deurgebring en sy lewe verander.

Jy kan vandag soos Jesus lewe. Wie het 'n bemoedigende woord van jou af nodig? Wie kan jy bemoedig deur doodgewoon tyd saam met hulle deur te bring? Deel die genade wat jy ontvang het deur die evangelie te verkondig aan diegene om jou wat seergemaak en alleen is. Deel die genade wat jy ontvang het deur die evangelie soos Jesus te verkondig. Lewe in verhouding met jou hemelse Vader in die seker wete dat Hy jou waarlik liefhet, en gebruik die krag wat in bemoediging opgesluit lê om liefde te bewys.

Begeleide Gebed:

1. Staan tyd af om na te dink oor dit wat die Bybel ons oor bemoediging leer.

"Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen" 1 Tessalonisense 5:11.

"Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom”" Efesiërs 4:29.

"Bekommernis druk ‘n mens neer; ‘n vriendelike woord vrolik hom op" Spreuke 12:25.

2. Vra vir die Here vir wie Hy sou wou hê jy vandag moet bemoedig. Miskien is dit ‘n kollega wat die afgelope tyd mismoedig voel, ‘n familielid wat ‘n moeilike tyd beleef of selfs ‘n vreemdeling wat net ‘n vriendelike woord nodig het.

3. Vra vir God hoe Hy sou wou hê jy die persoon moet bemoedig. Dit kan iets eenvoudigs wees soos die stuur van ‘n teksboodskap of iemand uitneem vir ete. Miskien is dit om enkele vriendelike woorde te sê of finansiële hulp aan te bied. Vra vir die Gees om jou te help en volg sy leiding. 

Die Bybel stel dit duidelik dat die tong ongelooflike mag het. In Spreuke 18:21 lees ons die volgende: "Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra." Kies om vandag opbouend te praat. Kies om mense om jou te respekteer in plaas van om te veroordeel. Kies om God se genade te sien wat oor elke mens om jou uitgestort is – ignoreer die toneelspel en gevoellose uiterlike maskers waaragter mense skuil en laat jou woorde hulle harte raak. Dit is God se bedoeling dat jy bemoediging moet gee en ontvang. Vir wie gaan jy vandag iets opbouends sê?

Verdere Leeswerk: Romeine 12

Dag 24Dag 26

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/