40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 23 VAN 40

Liefde is Teenwoordig

Weeklikse Oorsig:

In Jakobus 2:26 lees ons dat "… die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood [is]." Om die lewensvolheid te ervaar wat deur geloof aan ons geskenk word, moet ons daders van die Woord word. Ons moenie net Sondae ons liefde voor God bely en dan Maandag lewe asof God nie teenwoordig is, bestaan of goed is nie. Mag jou geloof hierdie week lewend word namate jy daarna streef om te doen wat die Woord sê. 

Skrifgedeelte: "Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om u teenwoordigheid te ontkom?" Psalm 139:7.

Oordenking:

Een van die mees vertroostende eienskappe van God se wese is sy teenwoordigheid. Jesus het God se begeerte om teenwoordig te wees duidelik gemaak toe hy van sy troon afstand gedoen het en mens geword het. God het nooit afstand tussen Hom en sy kinders begeer nie. Hy veg daarvoor om daagliks ‘n nabye verhouding met ons te hê. Hierdie week let ons daarna op hoe ons nie net die Woord van God kan ontvang nie, maar ook meer van God kan ervaar deur doeners van sy Woord te word. Dus, kom ons ontdek hoe ons Jesus se voorbeeld kan volg en vir diegenne óm ons teenwoordig kan wees.

Om in mense se lewens teenwoordig te wees, verg altyd opoffering. Dit beteken om ‘n lewe opsy te skuif wat net tot jou voordeel is sodat jy ook tot voordeel van ander kan leef. In Filippense 2:3 leer ons die volgende: "Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself." Vir Jesus was jy en ek belangriker as sy eie lewe. Hy het gesterf sodat ons kan lewe en roep ons om dieselfde te doen. In Lukas 9:23 hoor ons die volgende: "Toe het Hy vir almal gesê: 'As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.'" Volgens Johannes 12:24 is dit duidelik dat, om vrug te dra in hierdie lewe, ons aan onsself moet doodgaan: "Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring hy ‘n groot oes." Kies vandag om ‘n doener van die Woord te word en gaan dood aan jouself sodat jy ander beter kan liefhê.

Kom ek stel dit so: Jou teenwoordigheid in mense se lewens is belangriker as die gee van raad. Die wete dat iemand my liefhet en vir my omgee is noodsaakliker as die behoefte tot herstel. Genesing vind plaas waar liefde gegee en geneem word. Teenwoordigheid skep ruimte vir ander om te floreer, te genees en radikaal te verander.

Wie in jou lewe het vandag ‘n behoefte aan jou teenwoordigheid? Op watter maniere het God se teenwoordigheid in jou lewe gemanifesteer? Op watter maniere het Hy sy nabyheid vir jou sigbaar gemaak? Op watter maniere kan jy sy nabyheid vandag uitstraal? Ek belowe jou, daar is iemand om jou wat nét jou teenwoordigheid in hulle lewens nodig het. Daar is iemand wat bloot net moet weet dat iemand hulle lief genoeg sou hê om aan hulle te dink – in hulle nabyheid te wees. Ruim vandag tyd in en laat iemand weet jy is daar vir hulle. Luister, bewys liefde en neem waar hoe God deur jou blote teenwoordigheid in ander se lewens werk. 

Begeleide Gebed:

1. Neem ‘n oomblik tyd en dink na oor God se nabyheid in jou lewe. Wees ontvanklik vir sy teenwoordigheid. Ervaar sy nabyheid.

"Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig" Psalm 139:7-12.

2. Vra nou vir die Gees om iemand vir jou uit te wys wat jou teenwoordigheid vandag nodig het. Neem ‘n paar minute om aan die persoon te dink en vir die persoon te bid.

3. Vra vir God hoe Hy sou wou hê dat jy jou teenwoordigheid in hulle lewens sigbaar moet maak. Hoe kan jy God se liefde vir hulle vandag uitstraal? 

Moenie bang wees om nederig teenoor die mense om jou te leef nie. Ag hulle belangriker as jouself. Jou teenwoordigheid is nie gekoppel aan hulle vergoeding vir jou teenwoordigheid of die indruk wat hulle laat oor hoe hulle jou liefde ontvang nie. Bewys, soos Jesus, vandag onselfsugtige liefde en ervaar die blydskap en vrede wat intree wanneer mens dien eerder as om gedien te word. 

Verdere Leeswerk: Filippense 2

Dag 22Dag 24

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/