40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 22 VAN 40

Liefde Doen

Weeklikse Oorsig:

In Jakobus 2:26 lees ons dat "… die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood [is]." Om die lewensvolheid te ervaar wat deur geloof aan ons geskenk word, moet ons daders van die Woord word. Ons moenie net Sondae ons liefde voor God bely en dan Maandag lewe asof God nie teenwoordig is, bestaan of goed is nie. Mag jou geloof hierdie week lewend word namate jy daarna streef om te doen wat die Woord sê. 

Skrifgedeelte: "’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood." Jakobus 2:26.

Aanbidding:

Lied: “The Wick” gesing deur die Housefires II

Skakel: https://www.youtube.com/watch?v=Q_cX0-wBoGs

(360)

Oordenking:

God se plan vir die Christelike lewe is dat dit met waagmoedige reddingsdade gevul moet wees – dade aangevuur deur Christus se liefdeswerk in ons eie lewens. God se liefde vir ons is so ongelooflik dat Hy die heerlikheid van die hemel wou verlaat, mens wou word en die mag van sonde en dood vanweë sy liefdesoffer wou vernietig. God se liefde was so oorvloedig dat hy Homself as offer vir onverdienstelike mense gegee het, wat Hom nooit sou kon vergoed nie. Hy begeer dat sy liefde ook die uitgangspunt sal wees van alles wat ons doen, dink en voel. 

As Christene moet ons die liefde uitstraal wat Christus aan ons bewys het, deur die wyse waarop ons ontferming en liefde aan hulle om ons betoon. God het ons aangestel as die enigste draers van sy vergifnisboodskap wat vir alle mense geld. Hy begeer om jou te gebruik om die hoop te deel en uit te leef wat uitsluitlik in ‘n verhouding met Hom geanker is. As 'n blote begrip beteken liefde nie veel nie. Die krag van God se liefde word deur dade sigbaar gemaak. Liefde word sigbaar gemaak deur ‘n vreemdeling te help, ontferming te betoon, barmhartigheid en genade te bewys aan hulle wat jou verontreg het, vir iemand iets te doen en niks terug te verwag nie, en met woord en daad die hoop op Christus te verkondig. Jesus het bewys dat liefde nie bloot ‘n begrip is nie. Liefde doen.

Bob Goff, ‘n kampvegter vir die idee om liefde uit te leef, skryf in sy boek getiteld "Love Does" die volgende: "Hy sê vir gewone mense soos ek en jy dat, in plaas daarvan dat ons die oë sluit en hoofde buig, God soms wil hê dat ons ons oë vir mense in nood moet oophou, iets daaromtrent moet doen en ons hele lewe in nederigheid voor Hom moet lewe." In sy boek maak hy ‘n belangrike geestelike beginsel bekend – dit was nooit die bedoeling dat jou geloof net gehoor moet word nie. Dit was ook nooit die bedoeling dat jy net oor jou geloof moet praat nie. In Jakobus 2:18 lees ons: "Maar iemand kan miskien sê: 'Die een het die geloof en die ander het die dade.' Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, ek ek sal jou my geloof wys uit my dade."

Wat beteken liefde as dit nie bewys word nie? Wat sou God se liefde beteken het as Hy in die hemel gebly het en nooit vir ons gely het nie? Hoe sou jy oor God voel as Hy die mensdom kon red, maar dit nie gedoen het nie? Jesus se optrede sou volkome geregverdig wees as Hy sy plek op die troon behou het. God se optrede sou heeltemal geregverdig wees indien Hy die mensdom sou uitwis en nuut begin elke keer wanneer ons afgode bo Hom verkies. In plaas daarvan, het God egter sy liefde vir ons bewys. Hy het die ongelóóflikste liefdesdaad denkbaar vir jou en my bewys deur sy Seun te laat sterf. Jesus het nie net oor liefde gepraat nie. Sy liefdesbewys lê in elke sweepslag op sy rug, in elke belediging, in elke spyker wat sy liggaam deurboor het en in elke ondraaglike gesnak na asem om vir ons te bid in plaas daarvan om te vra dat die marteling moes stop. Hy het sy liefde vir jou en my uitgeleef en roep ons om dieselfde te doen. In 1 Johannes 4:9-11 lees ons die volgende:

"Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê."

Bestee vandag tyd saam met God en vra Hom hoe jy jou liefde kan bewys. Op watter maniere is God se liefde aan jou bewys? Op watter maniere kan jy met diegene om jou die ongelooflike geskenk deel wat jy ontvang het? Dikwels dink ons ons moet indrukwekkende dinge doen, byvoorbeeld om iemand na Jesus toe te lei of om alles te verkoop wat ons het. Om jou geloof te bewys, kan so maklik wees soos om ‘n telefoonoproep te maak, ‘n maaltyd te kook, iets vriendeliks te sê of ‘n drukkie te gee. Wat ook al God vir jou aandui, kies die lewe van ‘n gelowige wie se geloof en dade in ooreenstemming is, en verkondig verlossing aan ‘n wêreld wat desperaat vir God se genade is.

Begeleide Gebed:

1. Wy ‘n bietjie tyd daaraan om na te dink oor God se aksieliefde. Kies om Jesus as jou voorbeeld te gebruik. 

"Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê" 1 Johannes 4:9-11.

2. Vra nou vir God aan wie Hy sou wou hê jy vandag liefde moet bewys. Wat kan jy doen om die Vader se liefde aan hulle om jou te bewys?

"’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood" Jakobus 2:26.

3. Vra vir die Gees om jou te vul met krag en moed om die liefdeswerk te doen wat Hy vandag vir jou beplan het. Laat Hy jou met sy teenwoordigheid bekragtig. 

Die Heilige Gees begeer om jou te help om met God kontak te maak en vanuit die vrug te lewe wat jou verhouding met Hom voortbring. Hy begeer om jou te bemagtig om ander lief te hê. Deur sy krag en genade kan jy jou tyd op aarde gebruik om ongelooflike en invloedryke werk met ewigheidswaarde te doen. Jy is God se kind, geskape na sy beeld en gevul met dieselfde Gees wat Christus uit die dood opgewek het. Steun op God, vra Hom vir hulp en wees moedig om jou vandag aan sy leiding te onderwerp.

Verdere Leeswerk: Jakobus 2

Dag 21Dag 23

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/