40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
![40 Daily Devotionals for Lent](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F14435%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Ontvang die Woord van God deur Dade
Weeklikse Oorsig:
Ek en jy het ‘n waardevolle geskenk ontvang — kommunikasie met God. Verlede week het ons geleer wat die proses behels om ons harte se grond sag en ontvanklik vir God te maak. Hierdie week leer ons oor verskillende maniere om sy Woord as saad te ontvang. Mag jou gemeenskap met God floreer namate jy gereeld met jou liefdevolle en teenwoordige hemelse Vader in gesprek bly.
Skrifgedeelte: "Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen" Jakobus 1:23-25.
Oordenking:
Geloof en dade gaan hand-aan-hand. Net so is begrip en optrede aan mekaar verbind — dit word so gedurende jou verlossing saamgevoeg deur die Heilige Gees wat in die lewens van gelowiges werk. Jakobus 2:14-17 vra ons:
"Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: 'Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,' maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood."
Die armes, wese, weduwees en verlorenes het nie slegs 'n woord van God af nodig nie. Hulle het óns nodig om volgens ons geloof en liefde op te tree en met die hulp van die Heilige Gees te dien. Om as gelowiges te vergader, is slegs 'n deel van wat God vir ons as sy kinders beoog. Indien ons alles wil ontvang wat God graag vir ons wil gee, indien ons in die oorvloedige lewe wil wandel wat God vir ons beplan, moet ons voorneme wees om daders van die woord te wees.
In Jakobus 1:23-25 kry ons 'n blik op die lewe van 'n gelowige wie se geloof nooit in dade oorgaan nie. Hieroor sê die Skrif:
"Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen."
Jou identiteit as dissipel van Christus spruit ongetwyfeld uit 'n verhouding met God, maar die bedoeling is steeds dat dit in jou dade uitgeleef moet word. God verlang dat jy 'n lewe van goeie dade sal leef in reaksie op die onvoorwaardelike liefde wat jy ontvang het. Hy verlang dat jy in selflose nederigheid sal leef en met ander dít sal deel wat Hy in jou gedoen het.
Ons het die Christendom van die wêreld geskei. So het ons ook Sondag van Maandag geskei, die heilige en die wêreldse. Toe Jesus op aarde was, het Hy elke oomblik in ooreenstemming met die liefde van God gelewe. Hy het egter die reëls verbreek toe Hy op die sabbat iemand genees het. Sy bediening het feitlik heeltemal buite die mure van die sinagoge plaasgevind. Hy het ook die goeie nuus van God se genade aan almal gebring wat wou glo, oral waarheen Hy ook al gegaan het. In sy lewe het Hy geensins onderskeid gemaak nie. Toe Jesus by die huweliksonthaal water in wyn verander het, was dit net so 'n heilige en geestelike daad as toe Hy in die tempel uit Jesaja gelees het om die vervulling van die profesie oor die Messias aan te kondig. Dit was sy liefde wat Hy in volmaakte daad deur elke woord, wonderwerk, tree, oogopslag en gebed uitgedruk het.
Met Jesus se volmaakte voorbeeld, kan ons ook volgens die wil van God begin lewe. Kom ons vervaag die skeidslyn tussen geloof en dade sodat die twee mettertyd een word. Kom ons beskou etes, gesprekke, rus, gesinstyd en partytjies as net so belangrik as om binne die mure van ons kerke te aanbid. Kom ons lewe soos Jesus geleef het en verenig liefde en dade, in plaas daarvan dat dit slegs 'n idee is wat ons Sondae bespreek.
Begeleide Gebed:
1. Dink na oor God se begeerte dat jou geloof goeie dade sal oplewer.
"Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: 'Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,' maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood" Jakobus 2:14-17.
2. Vra vir God waar Hy wil hê jy jou geloof in dade moet laat oorgaan. Dit kan wees om vir jou vrou 'n bos blomme te koop, om jou man op 'n nuwe manier te eer, om jou kinders met 'n spesiale uitstappie te trakteer of om iemand by die werk of skool te bemoedig. Vra die Heilige Gees om vir jou spesifieke maniere te wys waarop Hy wil hê jy die liefde moet uitleef wat jy ontvang het.
3. Vra vir God om jou die krag en moed te gee om sy woorde uit te leef. Volg dan waar die Heilige Gees jou lei om die goeie dade te doen wat Hy vandag vir jou voorberei het.
Die Gees het 'n wonderbaarlike vermoë en krag om 'n gewillige hart in optrede ter wille van God te lei. Om bewus te word van God se liefde vir die mense om jou, sal vir jou deure in jou eie lewe oopmaak om die volheid van God se hart beter te leer ken. Jy sal agterkom dat seën om ander te dien meer diepgaande is as die seën wat jy ooit kan ontvang deur gedien te word. God stort sy liefde en genade uit oor diegene wat dien in ooreenstemming met die leiding van die Gees. Dis waarlik 'n eer om deur God gebruik te word om sy koninkryk op aarde te bevorder. Jy is geskape om die waarheid van die evangelie uit te leef. Besluit dus vandag om op te tree volgens die leiding van die Gees. Word 'n dader van die woord.
Verdere Leeswerk: Jakobus 1
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![40 Daily Devotionals for Lent](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F14435%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More
Verwante Leesplanne
![Maak Plek vir Wat Saak Maak: 5 Geestelike Gewoontes vir Lydenstyd](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F24043%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Maak Plek vir Wat Saak Maak: 5 Geestelike Gewoontes vir Lydenstyd
!['n Sewe-dag Gids oor Gebed](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F16086%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
'n Sewe-dag Gids oor Gebed
![Om op God te Wag](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F20231%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Om op God te Wag
![Maak 'n Kopskuif](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F18084%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Maak 'n Kopskuif
![Vrolik en Vriendelik: Vier Elke Dag Kersfees](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F17399%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Vrolik en Vriendelik: Vier Elke Dag Kersfees
![Hernu Jou Denke: Detoks Jou Gedagtes](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F17340%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Hernu Jou Denke: Detoks Jou Gedagtes
![Delf dieper deur Romeine](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F54169%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Delf dieper deur Romeine
![Voltydse Volharding](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F54920%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Voltydse Volharding
![Sy Glorie, My Storie: 'n Studie Van Sy Heerlikheid in Hebreërs](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F54919%2F320x180.jpg&w=640&q=75)
Sy Glorie, My Storie: 'n Studie Van Sy Heerlikheid in Hebreërs
![Ervaar jy die volheid van die Heilige Gees?](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F55460%2F320x180.jpg&w=640&q=75)