40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
God Praat tydens Afsondering
Weeklikse Oorsig:
Ek en jy het ‘n waardevolle geskenk ontvang — kommunikasie met God. Verlede week het ons geleer wat die proses behels om ons harte se grond sag en ontvanklik vir God te maak. Hierdie week leer ons oor verskillende maniere om sy Woord as saad te ontvang. Mag jou gemeenskap met God floreer namate jy gereeld met jou liefdevolle en teenwoordige hemelse Vader in gesprek bly.
Skrifgedeelte: "Bedaar en erken dat Ek God is …" Psalm 46:11.
Oordenking:
Afsondering — wanneer ‘n kind van God tyd opsy sit om die vrede en teenwoordigheid van die Skepper ten volle in te drink en die gejaag, geraas en angstigheid van die wêreld uit te doof. Afsondering beteken om alleentyd saam met jou hemelse Vader deur te bring, losgemaak van alles wat die wêreld oënskynlik elke oomblik aan ons voorhou om ons aandag mee af te lei. Ons is gemaak om gereeld tyd vir afsondering eenkant te skuif.
C.S. Lewis het in "The Weight of Glory" die volgende geskryf: "Dit is 'n feit dat ons in ‘n wêreld lewe wat honger na afsondering, stilte en privaatheid: daarom honger ons ook na tyd vir nadenke en ware vriendskap." Die meeste van ons het daaraan gewoond geraak om werklik na afsondering te "honger". Ons besef nooit ten volle hoe groot ons behoefte aan alleentyd saam met Hom is wat ons onderhou nie. Kom ons maak vandag tyd om ons behoefte aan afsondering te erken en te leer hoe om daagliks afsondering optimaal te beoefen.
Besef dat afsonderingstyd om een rede vir jou ‘n noodsaaklikheid is — Jesus het dit nodig gehad. Oral in die Nuwe Testament kry ons voorbeelde waar Jesus Homself afgesonder het om alleen te gaan bid. Een voorbeeld vind ons in Markus 1:35 waar ons die volgende lees: "Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid." Alhoewel Jesus tydens sy aardse lewe volmaak met sy hemelse Vader gekommunikeer het, het Hy nogtans afsonderingstyd nodig gehad. Jesus, wat gesellig in sy omgang met mense was, van mense gehou het en God en mens tegelykertyd was, het alleentyd nodig gehad. As Hy dit nodig gehad het, kan jy en ek verseker weet dat dit ook vir ons noodsaaklik is. Toe God mens geword het en met sy moeilikste opdrag, om gekruisig te word, gekonfronteer is, het Hy nie net met wilskrag dit reggekry om die opdrag uit te voer nie. Hy het in die tuin van Getsemane alleentyd in gesprek met sy hemelse Vader deurgebring. Die afsonderingstyd was nodig sodat Hy sy doel hier op aarde kon vervul, en dieselfde geld vir jou en my.
Afsondering is lewegewend. Dit is ‘n noodsaaklikheid vir Christene se geestelike lewe. Richard J Foster het gesê: "Eensaamheid is innerlike leegheid. Afsondering is innerlike vervulling." Afsondering is een van die heel belangrikste en lewegewendste geestelike dissiplines. As jy God se stem wil hoor, moet jy afsondering beoefen. As jy uithouvermoë en ‘n allesoortreffende bestendigheid in jou lewensomstandighede wil ervaar, moet jy afsondering beoefen. Jy is gemaak om tyd in stilte deur te bring en om doodgewoon net by jou hemelse Vader te wees.
Dus, wat is die beste manier om afsondering te beoefen? Eerstens, kry ‘n plek weg van alles wat jou aandag aflei, waar jy tyd met God kan deurbring. Kry ‘n plek waar jy weet jy nie gesteur sal word nie. As jy saam met ander woon, bepaal ‘n tyd wanneer hulle nie tuis of wakker sal wees nie. As jy alleen woon, identifiseer ‘n plek en tyd sodat jy sonder enige steurings afsonderingstyd kan deurbring. Tweedens, gun jouself ‘n sekere hoeveelheid afsonderingstyd alleen met God. Dit kan tien minute of ‘n uur lank wees. Hierdie tyd moenie vir lees, lofprysing of gebed gebruik word nie, tensy jou afsonderingstyd jou daartoe lei. Madeleine L’Engele het gesê: "Intieme kommunikasie met God is meer as net woorde, dit strek selfs verder as blote stilte." In afsondering beleef ons ‘n oomblik van innige gemeenskap in die salige nabyheid van God wat woorde oorbodig maak.
Maak vandag êrens tyd om te ervaar hoe ongelooflik dit is om afsondering as dissipline te beoefen. Wees geduldig met jouself. Wees geduldig met God. Vul die leegheid wat die stilte meebring met die tevredenheid wat God se teenwoordigheid bied. Jou hemelse Vader hou eenvoudig daarvan om tyd saam met jou deur te bring en innige gemeenskap met jou, die kroon van die skepping, te geniet. Jy is sy kind. Laat die vertroostende en ondersteunende arms van jou hemelse Vader jou vandag omvou terwyl jy met afsondering begin.
Begeleide Gebed:
1. Kry ‘n plek waar daar niks is wat jou aandag aflei nie. Vra die Gees om jou hart en denke stil te maak en jou te help om tyd in innige gemeenskap met God deur te bring.
2. Neem ‘n paar minute tyd om net doodgewoon afgesonder in God se teenwoordigheid te rus.
"Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid"Markus 1:35.
"Intieme kommunikasie met God is meer as net woorde, dit strek selfs verder as blote stilte." Madeleine L’Engele
3. Skryf neer hoe die afsonderingstyd jou laat voel het. Dit is in orde as jy ongemaklik of gefrustreerd gevoel het! Afsonderingstyd en stiltetyd is praktyke wat die meeste van ons nog nooit beoefen het nie. Wees geduldig met jouself.
Afsondering verg oefening. Hoe meer jy dit doen, hoe voordeliger en meer bevredigend sal dit word. Die oomblik wanneer jy woordeloos by God se hart aansluiting vind en Hom persoonlik ontmoet, sal die manier hoe God jou sien een van die dinge wees wat die belangrikste plek in jou lewe inneem. Om uit eie ondervinding te weet dat jou hemelse Vader jou sien en liefhet, behoort die vertrekpunt te wees van alles wat jy doen. Verbind jou tot afsonderingstyd saam met God en leer wat dit beteken om eenvoudig ‘n kind te wees in wie die Vader vreugde vind.
Verdere Leeswerk: Psalm 46
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More