40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
God Praat gedurende Nadenke
Weeklikse Oorsig:
Ek en jy het ‘n waardevolle geskenk ontvang — kommunikasie met God. Verlede week het ons geleer wat die proses behels om ons harte se grond sag en ontvanklik vir God te maak. Hierdie week leer ons oor verskillende maniere om sy Woord as saad te ontvang. Mag jou gemeenskap met God floreer namate jy gereeld met jou liefdevolle en teenwoordige hemelse Vader in gesprek bly.
Skrifgedeelte: "Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let" Psalm 119:15 (AFR20).
Oordenking:
Die geestelike dissipline van nadenke, het op die Christen se hart dieselfde uitwerking as goeie grond vir die saad van 'n plant. In nadenke bring die saad van die Woord van God wortels te voorskyn wat lewegewende, oorvloedige vrugte oplewer. Richard Foster het in sy boek Celebration of Discipline geskryf: "Die doel van nadenke is om ons in staat te stel om God duideliker te hoor. Nadenke bestaan uit luister, aanvoeling en ag slaan op die lewe en lig van Christus. Dit dring deur tot die kern van ons geloof. 'n Lewe wat God behaag, bestaan nie uit 'n stel godsdienstige pligte nie; dit is om sy stem te hoor en sy Woord te gehoorsaam. Nadenke maak die deur na so 'n lewenswyse oop."
Die Christen se beoefening van nadenke, is in sy wese om die Woord van God te "herkou" of te bepeins. In nadenke word ruimte vir die Gees geskep om reguit in ons harte te praat en die Woord van God in ons lewens toe te pas. Wanneer ons byvoorbeeld 'n Bybelvers soos Klaagliedere 3:22 bepeins: "deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie" gee ons aan God die ruimte om al die wyses aan ons te openbaar hoe sy ontferming en standvastige liefde waaraan geen einde is nie, aan ons beskikbaar is. Nadenke skep 'n weg vir die Skrif om verby ons denke te beweeg en verandering in ons harte aan te bring.
Nog 'n kragtige eienskap van Christelike nadenke, is om die karakter van God te bepeins. Partykeer, wanneer ek sonder hoop voel, sal ek verskeie Skrifgedeeltes opsoek oor die hoop wat ons in God het, en dit bepeins. Terwyl ek dan nadink oor God se volmaakte karakter, kom my gedagtes, sienings en emosies in pas met die onveranderlike aard van my hemelse Vader. Om na te dink oor wie God is, het 'n kragtige uitwerking op ons wêreldbeskouing. Om hierdie rede verklaar Psalm 1:1-3:
"Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak."
Staan dus tyd af om oor die Skrif na te dink. Skep die ruimte om na God te luister en pas die saad van sy Woord toe. Bepeins sy onveranderlike, volmaakte karakter. Mag jou dag met oorvloedige lewe gevul wees wanneer jy dan die vrug van nadenke dra.
Begeleide Gebed:
1. Kies 'n Bybelvers of eienskap van God se karakter om oor na te dink.
2. Skep die ruimte om na God te luister terwyl jy oor sy Woord of karakter nadink. Gee die Gees die geleentheid om die Woord van God op jou lewe toe te pas terwyl jy nadink. Laat die karakter van God toe om 'n fondament vir jou emosies te lê.
"Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let" Psalm 119:15 (AFR20).
3. Raak nou bewus daarvan hoe dit blyk dat die Bybelvers of frase 'n invloed het op jou denkwyse, gevoel of begeerte om op te tree. Jubel in die krag van die Woord van God om lewens en harte te herskep.
Nadenke behoort vir Christene 'n daaglikse gewoonte te wees. Die Woord van God was nooit bedoel om bloot verstaan te word nie, maar om lewendig en aktief in sy kinders te wees. Die doel van die Skrif is om ons te lei om meer soos Jesus te wees, in beide ons innerlike en uiterlike optrede. Nadenke is een van die beste hulpmiddels wat God ons gegee het om die woorde van 'n Bybelblad na 'n lewendige, aktiewe lewensstyl te neem. Mag jou beoefening van nadenke jou geestelike lewe herskep om met vreugde, krag en vrug van die Gees gevul te wees.
Verdere Leeswerk: Psalm 1
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More