HerskepVoorbeeld
Terwyl Jy Aan Jou Doelwitte Werk, Werk God In Jou Lewe
Gister het ons gesels oor die rede hoekom jy doelwitte in jou lewe behoort te stel. Vandag gaan ons oor nog drie redes gesels hoekom dit so belangrik is om doelwitte te stel, en dat selfs Jesus doelwitte vir Homself gestel het.
Jy moet doelwitte stel want hulle gee jou hoop om aan te gaan en te volhard.
Job sê: "Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om voor te lewe nie" (Job 6:11 NLV). Jy moet 'n doel hê om jou aan die gang te hou.
Jy het nie 'n groot doel nodig om jou te motiveer nie. Indien jy byvoorbeeld 'n operasie sou nodig hê, sal jou eerste doel, as deel van die herstelproses, wees om regop in die bed te sit. Dan kan jy uit die bed begin opstaan en daarna in die gang afstap.
Hierdie is almal klein doelwitte, maar hulle is almal belangrik, want dis nie een groot sprong van waar jy nou is tot waar jy sukses bereik nie. Dis 'n klomp klein treetjies. 'n Doel hoef nie groot te wees om belangrik te wees nie — dit moet jou net aanmoedig om aan te hou.
Jy moet doelwitte stel want dit bou jou karakter.
Die grootste voordeel vir jou lewe sal nie jou suksesse wees nie, maar eerder wat in jou gebeur het terwyl jy op pad was na jou doel.
God is meer geïnteresseerd in jou karakter as in jou suksesse. Terwyl jy aan jou doel werk is God besig om aan jou te werk. Hy is besig om jou karakter te bou en dis wat vir ewig gaan hou.
Dis wat Paulus in Filippense 3:12 (ABA) sê: “Ek sê nie dat ek hierdie nuwe lewe al klaar het nie of dat ek al klaar is wat ek moet wees nie. Maar ek sal aanhou probeer om dit te kry.” Dit verg energie en moeite om die doel te bereik en die resultaat is dat jy meer soos Christus word.
Jy moet doelwitte stel want goeie doelwitte sal beloon word.
Spreuke 11:27 sê: "Wie die goeie nastreef, kan goedkeuring verwag." Wanneer jy jou lewe vir 'n goeie doel gee, bring dit eer en bou 'n nalatenskap op die aarde.
Die werklike beloning van goeie doelstellings, kom eers in die ewigheid. Die Bybel sê in 1 Korintiërs 9:25-26 (NLV): “Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee." Paulus was 'n doelgerigte persoon. Jy moet ook so wees sodat jy die prys kan wen wat God vir jou in die hemel voorberei het.
LUISTER vandag na die klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More