HerskepVoorbeeld
Wanneer Jy Aangeval Word, Raak Rustig
Ons beskawing is besig om sy beskaafdheid te verloor. Die wêreld word al hoe meer ongeskik! Een van die dinge wat dit veroorsaak, is die internet, want dit laat mense toe om agter die skerm weg te kruip en dinge aanlyn te sê waarvoor hulle nooit die moed sal hê om in iemand se gesig te sê nie.
Al wat daardie mense doen is om bekend te maak hoe klein hulle harte is. Vername mense laat mense vernaam voel, maar kleinlike mense verkleineer mense. Mense wat ander verkleineer het 'n harde hart en hulle spot met ander omdat hulle dink dat dit hulle beter sal laat voel.
Hoe moet jy ongeskikte mense hanteer? Jy hoef nie. Laat God met hulle werk. Laat God jou verdediger wees.
Koning Dawid was goed hiermee. Hy het geweet hoe dit is om emosioneel, verbaal en fisiek aangeval te word. As 'n jong man is hy deur Samuel gesalf om die volgende koning van Israel te wees, maar hy het twee jaar lank van sy voorganger af gevlug, wat hom wou doodmaak. Hy het in grotte weggekruip terwyl hy gedurig agter sy rug gekritiseer is.
Tog het Dawid nooit iets slegs van die koning gesê nie. Hy het nooit teruggeveg nie, want God was besig om hom voor te berei om die volgende koning te wees, 'n man na sy hart.
In Psalm 23:5 (NLV) sê Dawid: " U berei vir my ’n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ’n eregas deur my kop te salf met olie en my beker oorvol te maak.”
Dawid het God se goedheid teenoor hom erken. God sou sy kop met olie salf, wat vir die wêreld sê: “Dis my man hierdie! Bly uit sy pad uit! Hy gaan die volgende leier wees.” Dawid se beker het oorgeloop, wat beteken dat God hom bly seën het, selfs toe ander hom aangeval het.
Klink dit of Dawid gespanne was? Nee! Dit was nie nodig dat hy al sy energie gebruik om homself te verdedig nie, want hy het vertrou dat God hom sou verdedig.
Dit verg baie geloof en nederigheid om rustig te raak en God te vertrou wanneer jy aangeval word, wanneer jy misverstaan word, wanneer skinderstories oor jou versprei word en wanneer mense dinge aanlyn oor jou sê. Wanneer dit gebeur wil jy self iets daaromtrent doen.
Jy tree egter soos Christus op as jy stilbly wanneer jy aangeval word. Jesus was gedurig aangeval en tog het Hy nooit terugbaklei nie, selfs nie op pad na die kruis nie. Hy het stil gebly teenoor sy beskuldigers want Hy het homself in die Vader se sorg toevertrou.
“As julle dus ly omdat julle doen wat God wil hê, moet julle aanhou goeddoen en julle lewe oorlaat aan God wat julle gemaak het. Hy sal julle nooit in die steek laat nie” (1 Petrus 4:19 NLV).
LUISTER na vandag se klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More