HerskepVoorbeeld
Slim Geldbestuurders Kyk Vorentoe
Geld is 'n werktuig wat vir God se doel aangewend kan word. Ons moet dit nie opgaar nie. Ons moet dit nie aanbid nie. Ons moet dit gebruik! Gebruik tydelike hulpbronne — dit wat God vir jou gee — vir ewige waarde.
In die verhaal van die oneerlike, maar slim, bestuurder, in Lukas 16:1-13, maak Jesus hom die held in die verhaal. Die bestuurder het geweet hy gaan afgedank word, dus het hy besluit om vriende te maak deur mense se skuld teenoor sy werkgewer te verminder.
Waarvan het Jesus omtrent hierdie man gehou? Hy was oneerlik, maar hy het drie dinge reg gedoen en dis lesse wat God wil hê jy ook moet leer en op jou geldsake van toepassing maak.
Die bestuurder het aan die toekoms gedink.
Die meeste mense dink nie vooruit wat hulle geldsake betref nie. Die gemiddelde spaargeld in Europa is omtrent 12 persent van 'n persoon se inkomste, en in Japan is dit ongeveer 25 persent. Die gemiddelde Amerikaner het verlede jaar minus een persent gespaar. Hulle spandeer meer as wat hulle maak! In Suid-Afrika spaar mense maar 0.5 persent van hulle inkomste. Mense spaar deesdae nie meer nie, en dit is nie verstandig nie.
Spreuke 14:8 sê: “Die wysheid van 'n verstandige mens wys vir hom 'n duidelike koers aan; die dwaasheid van 'n dwase mens maak alles vals.”
Die bestuurder het 'n plan beraam.
Hoe weet jy of jy 'n finansiële plan het? Dis baie eenvoudig: Het jy 'n begroting? 'n Begroting is bloot net 'n plan om jou geld te spandeer. 'n Begroting sê vir jou geld waarheen jy wil hê dit moet gaan, eerder as om te wonder waarheen dit verdwyn het. Jy moet 'n plan hê.
Spreuke 16:9 sê: “Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af.”
Die bestuurder het vinnig opgetree.
Lukas 16:4 (AFR20) sê: “Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is."
Die bestuurder het nie uitgestel of tyd verspeel nie. Hy het dadelik sy plan in werking gestel. Hy het nie gesê: "Eendag gaan ek my geldsake in orde kry" nie, of "Eendag sal ek begin om geld vir my aftrede te spaar" nie.
Jesus prys nie die bestuurder se oneerlikheid nie, maar sy houding, wat sê: “Ek gaan vooruit dink. Ek gaan 'n plan beraam. En ek gaan in verhoudinge belê wat ander en myself in die toekoms sal bevoordeel.”
Dis verstandig! Jesus wil hê dat jy dieselfde sal doen wat jou geldsake betref. Spandeer jy jou skat hier op aarde of kyk jy na die toekoms en vergader jy skatte in die hemel?
LUISTER na vandag se klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More