HerskepVoorbeeld
Vier Stappe om Jou Reuse te Oorwin
Hoe oorwin jy die reuse wat jou keer om die man te wees wat God wil hê jy moet wees? Hoe oorkom jy die vrese wat jou daarvan weerhou om die vrou te wees wat God wil hê jy moet wees?
Indien jy 'n persoon van groot geloof, 'n groot droom en 'n groot lewe wil wees, moet jy dieselfde dinge doen wat Dawid gedoen het, om die reuse van versuim, moedeloosheid, afkeur en twyfel te verslaan.
1. Onthou hoe God jou in die verlede gehelp het.
Dawid sê in 1 Samuel 17:37 (NLV): “Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!”
Wanneer jy onthou op watter maniere God jou in die verlede gehelp het, gee dit jou vertroue vir die toekoms.
2. Gebruik die gereedskap wat God nou vir jou gegee het.
Dawid het die gereedskap gebruik wat God voorsien het om hom te versterk: “Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek ... 'Ek kan nie hiermee loop nie,' sê hy. 'Ek is nie daaraan gewoond nie.' Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak" (1 Samuel 17:38-40a).
Moenie vir iets wag wat jy nie het nie — geld, geleerdheid of konneksies. Gebruik die gereedskap wat God alreeds vir jou gegee het, om jou reuse met vertroue in die gesig te staar.
3. Ignoreer die droombrekers.
Later in sy lewe, toe ander mense kwaad gepraat het van hom, moes Dawid homself in die Here bemoedig: “Dawid was lelik in die nood: die manne was só verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God” (1 Samuel 30:6 DB).
Wanneer jy jouself in die Here bemoedig, is dit nie net positiewe denke nie. Daar is 'n vaste vertroue in God se genade, voorsiening, beskerming en krag.
4. Verwag dat God jou sal help tot sy verheerliking.
Dawid het op die gevegsveld afgestorm terwyl hy skree: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig. …. Vandag gee die Here jou oor in my mag … Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het” (1 Samuel 17:45-46 NLV).
Toe ek 'n jong man was het ek hierdie besluit geneem. Een nag, op die berge van Noord-Kalifornië, het ek gekniel en gesê: “God, ek is nie die slimste, mees geleerde of mees talentvolle ou nie. Ek gaan U egter vertrou. En ek sal enigiets, enige tyd, op enige plek in geloof doen, selfs al maak dit nie vir my sin nie.” En watter avontuur was my lewe!
Ek praat elke week met 'n groep mense wat omtrent vyf keer meer is as die mense in die dorp waar ek grootgeword het. Ek is 'n plaaskind — met 'n kettie.
God sal enigeen gebruik wat Hom sal vertrou en verwag om deur Hom gebruik te word — nie as gevolg van wie jy is nie, maar tot sy verheerliking.
LUISTER na vandag se klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More