HerskepVoorbeeld
Hoe Om Op 'n Bybelse Manier Vindingryk te Wees Met Jou Geld
In Lukas 16:1-13 vertel die Bybel vir ons van 'n ryk man wat 'n bestuurder aangestel het om sy eiendom op te pas. Toe die bestuurder daarvan beskuldig word dat hy sy werkgewer se geld nie goed bestuur het nie, en rekenskap moes gee, het hy 'n plan beraam. Hy het geweet hy gaan sy werk verloor en het besluit om vriende te maak met mense wat na hom sou omsien as hy afgedank word. Hy roep toe almal bymekaar wat geld geskuld het aan sy meester en verminder hulle skuld; as iemand 100 vate olyfolie geskuld het, het hy die skuld verander na 50 vate.
Toe sy werkgewer hoor wat hy gedoen het, moes "die ryk man tog die oneerlike bestuurder prys omdat hy so uitgeslape was." En dit is waar dat "die mense van hierdie wêreld onder mekaar vindingryker is as die godvresende mense” (Lukas 16:8 NLV).
Jesus prys nie die oneerlike bestuurder in die gelykenis nie, maar hy prys sy vindingrykheid. Wat is vindingrykheid? Om vindingryk te wees beteken jy is slim en strategies. Jy kan 'n probleem reg opsom, weet wat gedoen moet word en werk dan uit hoe om dit te doen. God wil hê dat jy sal leer hoe om vir die res van jou lewe vindingryk te werk te gaan met jou geld.
Ons kan vier dinge uit die verhaal leer, wat ons nie met ons geld moet doen nie.
1. Moenie jou geld verkwis nie.
Lukas 16:1 sê: “’n Gerug het die rondte gedoen dat die bestuurder sy baas se besittings verkwis.” Omdat alles wat jy het aan God behoort en 'n geskenk van Hom is — insluitend jou geld — moet jy versigtig wees om nie te verkwis wat aan Hom behoort nie.
2. Moenie jou geld verafgod nie.
Jy sal moet besluit of God eerste gaan wees in jou lewe en of jou doel in die lewe is om baie geld te maak. Jy kan nie altwee dien nie.
“Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie” (Lukas 16:13 NLV).
3. Moenie op jou geld staatmaak nie.
Ek gee nie om hoeveel geld jy het nie — jy kan dit altyd verloor. Die bestuurder het dit baie gou geleer. Lukas 16:3: “Wat nou? Dis klaarpraat met my.”
As jy sekuriteit wil hê, moet jy jou lewe bou op iets wat nooit van jou weggeneem kan word nie. Daar is net een ding wat jy nooit kan verloor nie: God se liefde vir jou.
4. Moenie verwag dat jou geld jou tevrede gaan stel nie.
As jy dink jy sal gelukkiger, veiliger of meer waardevol wees omdat jy meer het, misgis jy jouself, want geld gaan jou nooit tevrede stel nie: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie” (Prediker 5:9).
Dis hoekom Jesus in Lukas 12:15 sê: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.”
LUISTER na vandag se klankgreep van pastoor Rick se lering >>
Aangaande hierdie leesplan
Soos Paulus, in die Nuwe Testament, mag jy dalk ook weet dat jy nog nie die persoon is wat God wil hê jy moet wees nie (Filippense 3:12). In hierdie reeks gee pastoor Rick die stappe wat nodig is om vorentoe te beweeg om jou doel na te streef om herskep te word om soos Christus te wees.
More